Wat maak Innibos uniek hierdie jaar?
Innibos bied vanjaar 'n paar unieke produksies aan wat self deur die feesbestuur saamgestel is.
MBOMBELA – Vir die eerste keer word die produksie,Woorde Innituin, by die Suikerbossie Teetuin in die Laeveld Botaniese Tuin aangebied. Antjie Krog en Mannini Mokhothu gaan onderskeidelik uit twee nuwe digbundels Mede-wete en A Suitcase of Lifela voordra.
Krog en Mokhothu gaan ook ‘n huldelied aan Mandela opdra. Die talentvolle Gerald Clark gaan getoonsette gedigte sing asook een uit Krog se nuwe digbundel. Om aan te sluit by Innibos se tema, ”Fees met hart”, waarin van die gebeure toeganklik vir dowes gemaak word, gaan Tebu Kukhali een van sy eie gedigte in gebaretaal uitvoer. ‘n Tolk gaan dit dan in Afrikaans voordra. Die kunswerke van Ilona Petzer, Annalie Odendaal, Erica Schoeman, Celeste Higgs en Mariana Zwaan kan ook besigtig word. Gedigte is as inspirasie vir die skep van dié kunswerke gebruik. Hierdie is ’n unieke geleentheid om jou siel in die buitelug te kom voed met die krag van woorde, pragtige klanke en die skoonheid van kunswerke. Maar bowenal om deel te wees van die besondere geleentheid om Krog in lewende lywe te ontmoet.
Die Sappi Boeke-crawl is jaarliks die hoogtepunt vir feesgangers wat op soek is na ’n unieke ervaring rondom boeke en musiek. Vanjaar word die mistieke Kaapsehoop weer besoek. By die eerste aandoenplek, Silver Mist Country Inn, gaan die bekende skrywer Karin Brynard oor haar boeke gesels terwyl Adam Tas hartroerende stories vertel en bypassende liedere sing. In die kapel bring Amanda Strydom hulde aan haar mentor, Hennie Aucamp, en vertolk sketse uit die Aucamp-kabaret, ’n Vuur gevang in glas.
Sy word deur Janine Neethling begelei. Herman van den Berg doen saam met Nathan Smit ’n uittreksel uitKraaitjie Melaaitjie. Kom luister hoe gedigte van N.P. van Wyk Louw, Antjie Krog, Elizabeth Eybers en nog vele klink as dit in note geverf word. Hierdie genot vind by Silver Mist Waenhuis plaas. Die laaste aandoenplek is Bohemian Groove Café waar die snykante van die letterkunde en musiek saamgeweef word. Chris van Niekerk gaan gedigte en kortverhale voorlees wat jou na jou asem gaan laat snak, terwyl Andra se sielvolle musiek tot hierdie atmosfeer sal bydra. Innibos het verlede jaar die kykNET Kos-crawl vir die eerste keer by Mbombela Stadion aangebied.
Dit is net soos pub crawling, maar hier word daar rondom kos, kokkedore, koekedore, sjefs en kunstenaars gekuier. In elke losie tree daar ’n ander sjef of kunstenaar op. Jak de Priester gaan kampvuurstories en allerlei staaltjies uit sy kinderdae vertel, terwyl Seline van der Wat gaan demonstreer hoe om S’mores met truffels en gesmelte malvalekkers te maak. Dit gaan ’n unieke koservaring wees waar al vyf sintuie ingespan word.
Jannie du Toit en Lochner de Kock se Die Cordon Broers se Kossêrt kom ook aan die beurt en die gehoor word met kosdemonstrasies, anekdotes, wenke, staaltjies en musiek uit die twee kunstenaars se reise deur hul kos- en musiekervarings vermaak.
Koskenner en storieverteller, Niël Stemmet, van Tuis en Landbouweekblad-faam, kom vanuit die Kaap om sy stories en resepte oor erfeniskos te deel. Die kykNET Kos-crawl word met ’n reuseverrassing afgesluit waar die wenners van die eerste Koekedoor fyngebak uit hulle kombuise kom voorsit. Die feesgangers kry slegs ’n peuselhappie by al die aandoenplekke – nie ’n volledige ete nie. Vir meer inligting en kaartjiepryse gaan na die Innibos webwerf www.innibos.co.za. Kaartjies is by Computicket te koop.
