CrimeLocal newsNewsUpdate

Familie soek geregtigheid ná gru-ongeluk waarin seun sterf, bestuurder vry

Die Lenting familie treur nog ná die dood van hul seun Michael.

Die Lenting-familie van Centurion, steeds hartseer ná die dood van hul seun Michael, is op soek na geregtigheid.

Michael (16) en sy jonger broer, Albert, toe 15-jaar-oud, het in 2011 op die sypaadjie in Rabiestraat langs Unitas-hospitaal gestap toe ‘n motor hul tref.

Albert is onder die voertuig vasgepen en Michael is teen ‘n palissade-heining gestamp waar hy aan ‘n skerp duiwelsvurk gehang het.

Albei is in die Unitas-hospitaal behandel waar Michael ‘n week later aan sy beserings dood is. Albert, nou 19, het oorleef, maar sukkel nog met gesondheidsprobleme.

Rina Bekker, ‘n eiendomsagent van Centurion het die motor volgens ‘n ooggetuie bestuur, maar sy is Dinsdag onskuldig bevind op ‘n aanklag van strafbare manslag.

Die hof het bevind dat daar teenstrydighede was in die getuienis van die ooggetuie, Olga Monama.

Die twee seuns se ma, Marie sê die familie gaan die saak nie daar laat nie.

“Ons gaan teen die hof se uitspraak appelleer. Op die ou einde moet die regte ding gebeur.”

Bianca en Karl, ouer suster en broer van Michael en Albert, sê die familie hoop nou net dat die regte ding sal gebeur.

“Ons is net op soek na geregtigheid. Wat met die hofsaak gebeur het, is nie geregtigheid nie. Bekker het nooit met ons gepraat nie en het gereeld gelag terwyl ons buite die hof gewag het.”

Alhoewel Albert die ongeluk oorleef het, ly hy steeds aan die nagevolge daarvan.

“Ek sukkel nou met verskeie gesondheidsprobleme. My bene het op 49 verskillende plekke gebreek in die ongeluk. My linker-enkel het ook nie ten volle herstel nie, maar die ding wat die ergste verswak het is my immuunstelsel,” sê hy.

“My milt was erg beseer en dokters moes dit verwyder om my lewe te red. As een van my vriende net verkoue het en my aansteek, kan ek binne ure in die hospitaal eindig. As ek ooit iets soos malaria kry, sal ek beslis doodgaan. Doktors moes ook ‘n deel van my linkerlong uithaal, want my ribbes het deur my long gesteek.”

Marie sê die ongeluk het ook negatiewe gevolge vir die gesin as eenheid.

“Dit is sleg om te sê, maar ons kuier amper nooit meer as familie saam nie. Elkeen sit net in sy eie kamer die hele aand. Ons sit nooit meer in die sitkamer en gesels soos ‘n familie nie.”

Sy sê Michael was ‘n goeie seun.

“Hy het tuisonderrig ontvang en was besig om sy NQF3-kwalifikasie, wat hy binne enkele maande gedoen het, te voltooi. Hy was verskriklik slim en toegewyd aan sy werk, maar het dit geniet om partykeer ’n bietjie stout te wees en poetse te bak,” sê Marie.

Lees ook:

Woman accused of killing teens in car crash walks free

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button