Beeskraal se Charlie met mes gesteek
Charlie Smidt van die groep Beeskraal is Donderdagmiddag met 'n mes gesteek terwyl hy in die middagverkeer gesit het.
Die groep Beeskraal se voorsanger Charlie Smidt is Donderdag met ‘n mes gesteek.
“Gelukkig het ek ‘n leerbaadjie aangehad en die lem het nie die hoofslagaar getref nie,” vertel hy.
Smidt, wat ook die skakelbeampte van die FAK is, was daardie middag op pad van sy kantoor na sy huis in Villieria toe hy in ‘n verkeersknoop beland het as gevolg van beurtkrag.
Smidt sê by die oorgang van Steve Bikoweg (voorheen Beatrixstraat) en Robert Sobukwestraat (voorheen Esselenstraat) is hy deur twee mans gekonfronteer.
“My venster was op ‘n gleufie oop en my selfoon was tussen my bene.”
Die twee mans het skielik teen sy motor gestaan. Hulle was met messe gewapen.
“Een het sy mes onder my pet ingedruk en teen my kop gehou. Hulle het beveel dat ek my foon oorhandig, wat ek toe gedoen het. Een van die mans het my toe in die arm gesteek, waarna hulle heel rustig in die rigting van die Sunnyside-winkelsentrum gestap het.”
Smidt sê niemand het hom probeer help nie. “Ek het hulpeloos gevoel. Ek wou hulle nie self agternasit nie, want ek het nie geweet hoeveel van hulle daar was nie en of hulle dalk vuurwapens gehad het nie.”
Smidt het voortgery en sowat twee blokke verder gevoel sy arm is warm van die bloed.
Hy is later na die Montana-hospitaal waar hy ‘n klem-in-die-kaak- inspuiting gekry het. “Ek het nie nodig gehad om steke te kry nie, al was die wond diep in die spier.”
Smidt het Vrydag die voorval by die Brooklyn-polisiekantoor aangemeld.
Danie Lagner, die uitvoerende hoof van die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings, sê in ‘n verklaring hy is bly Smidt leef.
“Die stryd teen misdaad is nie ‘n swart en wit kwessies nie. Dit is ‘n stryd van alle hardwerkende Suid-Afrikaners wat die beste vir hulle gesinne en families wil hê.”
Luister na wat Schmidt te sê het:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
