Skoon oudits vier jaar in ’n ry vir Staatsteater
Hierdie prestasie bevestig die instelling se verbintenis tot verantwoordelike bestuur, finansiële deursigtigheid en artistieke uitnemendheid, terwyl dit nuwe verwagtinge vir die toekoms van die teater in die hoofstad skep.
Die Suid-Afrikaanse Staatsteater het ’n belangrike mylpaal bereik nadat die instelling vir die 2025/26-boekjaar ’n skoon ouditmening van die Ouditeur-Generaal van Suid-Afrika ontvang het.
Die jongste uitslag beteken dat die teater nou vier agtereenvolgende skoon oudits behaal het, vanaf 2022/23 tot 2025/26.
Volgens die teater se uitvoerende hoof, Shane Maja, bevestig die jongste uitslag die belangrikheid van ’n noue band tussen die instelling se kulturele opdrag en verantwoordelike bestuur.

Hy het die finansiële hoof, Santa Viljoen, en haar span geloof vir hul volgehoue aandag aan finansiële bestuur.
Maja het ook erkenning gegee aan die artistieke direkteur, Aubrey W. Sekhabi, en die artisiteke span, asook aan die departemente wat die instelling se risikobestuur en menslike hulpbronne ondersteun.
Hy het egter benadruk dat die jongste oudit nie die einde van die teater se verantwoordelikhede is nie.
Volgens hom begin die belangrike werk juis nou, met die handhawing van die hoë standaard en die voortdurende verbetering van interne prosesse.
Hy het die teater se toekomstige rol beskryf as dié van ’n tuiste vir teaterpraktisyns, geleentheidsorganiseerders, uitstallers en maatskaplike entrepreneurs wat saam met die instelling betekenisvolle maatskaplike impak wil skep.
Maja het verder gesê die Staatsteater werk aan ’n tegnologies-gevorderde ‘slimteater’ wat aanpasbaar by die toekoms van die kreatiewe en kulturele bedrywe moet wees.

Vir Viljoen toon die vier skoon oudits onder meer die waarde sterk stelsels.
Sy het gesê die uitslae spruit uit ’n gesamentlike poging deur bestuur, personeel en die instelling se bestuurstrukture.
“Die bereiking van ’n skoon oudit vir vier agtereenvolgende jare weerspieël die Suid-Afrikaanse Staatsteater se volgehoue verbintenis tot gesonde finansiële bestuur,” het Viljoen beklemtoon.
Sekhabi het die prestasie as ’n trotse oomblik vir die instelling en sy mense verwelkom. Hy het sy gelukwense aan Viljoen en haar span, sowel as aan die hele Staatsteaterfamilie, gerig.
“Ons is opgewonde om vir vier jaar agtereenvolgens ’n skoon oudit te behaal. Dit is ’n voorbeeld dat die Suid-Afrikaanse Staatsteater in goeie hande is,” het Sekhabi gesê.
Hy benadruk dat die instelling se bestuur beskou artistieke en institusionele uitnemendheid as twee doelwitte wat mekaar aanvul.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel