Gemeenskap verenig in stryd teen dwelms
'n Groei in dwelmmisbruik het inwoners van Hercules baie bekommerd.
Dwelms in Hercules het die polisie, gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en inwoners baie bekommerd. Dit veroorsaak ook dat kriminele aktiwiteite hoogty vier.
‘n Bewusmaking- en inligtingsessie is Woensdagaand deur die GPF by Laerskool Hermanstad gehou, waar Adj.-Offisier Hermanus Van den Bergh, wat hoofsaaklik in Pretoria Sentraal werk, die probleme en nadele van dwelmgebruik aan die sowat 200 mense verduidelik het.
Die voorsitter van die Hercules GPF, Conrad Naudé, het gesê die probleem van dwelms in Hercules is baie groter as wat die meeste mense besef en is ook die oorsaak van kriminele aktiwiteite in die omgewing. Dwelmgebruikers besteel mense om geld vir dwelms te kry. “Ons sit daagliks met mense wat orals loop en steel om hul dwelmverslawing te onderhou. Jy kan net om jou rondkyk om te sien wat die invloed van dwelms op ons gemeenskap is,” sê Naudé.
Die oorbrug in Hendrikstraat is een van die grootste dwelmneste in Hercules. “Plekke waar dwelms verkoop word is onder die brug in Hendrikstraat agter die Bougainville Hospitaal.”
Hy het gesê dwelms word by die oorbrug verkoop en baie van die mense gebruik dit ook sommer dadelik.
“Die ander plekke waar dit vrylik verkrygbaar is, is by die dobbelplekke in die omgewing. Dit word ook baie gou deur die “runners” afgelewer wanneer die bestelling geplaas word,” sê Naudé.
Mense word versoek om hul kinders in te lig oor die probleme van dwelmmisbruik sodat hulle die erns van die saak kan verstaan. “Wees betrokke by jou kinders en leer hul vriende ken en weet ten alle tye waar hulle is,” het hy aanbeveel.
Indien mense inligting oor dwelmprobleme in die omgewing het, kan hulle dit aan die Hercules polisie of GPF gee sodat dit opgevolg kan word.
Enige navrae kan ook aan die GPF-voorsitter gerig word by 082-921-3744 of stuur ‘n e-pos na conradnaude@gmail.com
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

