‘n Gedenkdiens is Dinsdag gehou op die plek waar ‘n hawelose vrou noodlottig deur ‘n dwaalkoeël getref is.
Lede van die Wonderboompoort-polisie, sektorlede en inwoners het die diens op die hoek van Fred Nicholsonstraat en Smook Laan bygewoon.
Pierre Bezuidenhout, voorsitter van die Wonderboompoort Sektor 2 se GPF en die organiseerder van die gedenkdiens, sê hy was Maandag op toneel toe die 41-jarige Charlene Buys doodgeskiet is.
“Ek het haar nie geken of haar gereeld in die omgewing gesien nie, maar dit is net reg om afskeid van iemand se lewe te neem. Haar dood het ons almal diep geraak,” het hy gesê.
Buys is Maandag na ‘n gewapende roof raakgeskiet.
‘n Drankwinkeleienaar is op die hoek van Steve Bikoweg en Swemmerstraat van ‘n onbekende bedrag geld beroof en toe in die linkerarm gewond.
Die rowers het in ‘n silwer Honda Ballade gevlug.
Polisiewoordvoerder Konstabel Tumisang Moloto sê die polisie het hulle agterna gesit waarna ‘n skietery tussen die polisie en die voortvlugtiges losgebars het.
Buys is in die proses raakgeskiet. Die drankwinkel-eienaar is na ‘n hospitaal geneem.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Lees ook:
Voetganger sterf na dwaalkoeël
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

