Die eienaar van ‘n sake-onderneming in Moreletapark is Maandag gruwelik beseer toe hy ‘n boef agterna gesit het.
Delius van der Merwe, wat vanuit ‘n huis in Rutgersstraat werk, het iemand gejaag wat helder oordag by die plek ingebreek het.
In die proses het hy oor ‘n groot groen palissade-heining met duiwelsvurke aan die bokant probeer klim. Hy het gegly en maag-eerste in die skerp diefwering geval.
‘n Werknemer van Van der Merwe, Elmira van Wyk, sê die boef het tydens werksure ingebreek.
“Ons was almal op kantoor toe dit gebeur het. Ons skoonmaker het op die man in ‘n kamer afgekom. Hy het beweer hy is aangestel om pype te herstel. Sy het hom nie geglo nie en vir ons kom vra.”
Toe Van Der Merwe en sy werknemers die man wou konfronteer, het hy die hasepad gekies met verskeie gesteelde items in die hand.
Van Wyk vermoed hy het na die Moreletakloof-natuurreservaat gehardloop.
Van der Merwe was vasbeslote om die dief vas te trek en het ‘n leer gaan haal en teenaan die palissade-heining geplaas om oor klim. Hy het sy balans verloor en maag-eerste in die skerp penne geval.
Van der Merwe is hospitaal toe gehaas.
“Op die oomblik is hy in Netcare Pretoria-Oos Hospitaal. Hy het erge skade aan die weefsel by sy maag, asook sy arms. Gelukkig is daar geen erge skade aan sy dikderm nie,” sê Van Wyk.
Die dief het met ‘n onbekende hoeveelheid goedere ontsnap.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

