
‘n Hawelose vrou, Charlene Buys, wat Maandagoggend deur ‘n dwaalkoeël noodlottig gewond is, se moordenaars is heel moontlik inhegtenis geneem.
Provinsiale polisiewoordvoerder Lt.kol Katlego Mogale het bevestig dat drie mans in die vroeë oggendure van Vrydag in Soshanguve en Mamelodi vir hul betrokkenheid in die skietvoorval inhegtenis geneem is.
Sy sê die inhegtenisneming kom na ‘n intensiewe ondersoek wat Maandag deur die polisie geloods is. “‘n Ses-en-vyftigjarige drankwinkel-eienaar is in die arm gewond en van ‘n onbepaalde bedrag geld geroof. Die rowers het in ‘n silwer Honda Ballade van die toneel gevlug voordat ‘n skietery tussen die polisie en die mans op die hoek van Fred Nicholsonstraat en Smooklaan losgebars het,” sê Mogale.
Tydens die skietery is Buys deur ‘n dwaalkoeël noodlottig gewond voordat die rowers spoorloos verdwyn het, maar die polisie het ‘n intensiewe soektog van stapel gestuur wat tot die drie mans se inhegtenisneming gelei het.
Mogale sê die mans sal eersdaags in die hof verskyn op aanklag van sake-onderneming-roof, moord en poging tot moord.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
