Lig in die donker by gevaarlike kolle
Ambisieuse straatligprojek behaal groot suksesse in Valhalla en Clubview.
Van die gevaarlikste kolle op twee roetes in Centurion sal binnekort saans verlig wees.
Dit sluit drie kilometer van Wierdaweg in en ‘n deel van Ou Johannnesburgweg, sê Demokratiese Alliansie raadslid Ina Strijdom.
Sy sê die wyk 66-straatligteprojek vorder fluks om van die gevaarlikste paaie in Valhalla en Clubview te verlig.
Dié projek, wat verlede jaar begin is, beoog om saans lig te bring waar misdaad en motorongelukke ‘n gereelde verskynsel is om die omgewing veiliger te maak vir motoriste en inwoners.
Strijdom sê die projek is ook gemik op punte waar breek-en-gryp-diefstalle, motorongelukke, en onwettige storting algemeen is.
“Dié projek fokus op verskillende paaie regoor my wyk, maar veral ook die Ou Johannesburgpad asook Wierdaweg, waar die span besig is,” sê sy.
“Inwoners is al jare lank ongelukkig oor misdaad in die gebied. Motoriste word gereeld geteiken omdat dit maklik is om weg te kruip. Daar word ook gereeld bourommel langs die pad gestort.”
Behoorlike beligting behoort al hierdie probleme te bekamp, sê Strijdom.
Die volgende fase van die beligtingsprojek sal na verwagting binne twee weke afgehandel word, sê Machtilt de Beer, skakelbeampte in wyk 66.
“Ons mik om die straatligte binne twee weke te kan aanskakel. Die een struikelblok wat ons gehad het, is dat die straatligte net 1.5 kilometer van ‘n mini-substasie af gekoppel kan word,” sê sy.
“Dit beteken dat die Wierdaweg-straatligte aan twee verskillende substasies gekoppel moes word.”
Strijdom sê sy is trots op die straatligspan.
“Die mans wat die straatligte installeer, was almal voorheen werkloos. Hulle het nou al maande lank werk. Solank die projek voortduur, sal hulle vir hul gesinne kan sorg.”
Strijdom sê sekere paaie en brûe sal nie verlig word nie.
“Die Wierdawegbrug oor die N14 kan ongelukkig nie verlig word nie. Dit behoort aan die SA Nasionale Padagentskap (Sanral) en nie aan die Tshwane-metro nie.”
Sodra die Wierdaweg projek afgehandel is, sal die straatligspan verskuif na die dele tussen Snake Valley- en Eufeesweg. Dele van die Ou Johannesburgpad moet ook nog beligting kry.
“Ons uiteindelike doel is om die hele pad, van Wierdaweg na Eufeeesweg te belig,” sê Strijdom.
Lees ook:
Geen voorsiening vir rampe in Tshwane
Valhalla-egpaar herstel ná panga-aanval
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
