El Niño slaan toe: SA wag op ‘n warm en droë somer
Vir Suid-Afrikaners beteken die verskyning van die El Niño-weerverskynsel dat in die komende maande sal voorbereiding belangriker as voorspelling alleen wees. Waterverbruik sal fyn dopgehou moet word, veral in die Wes-Kaap, terwyl hitte en brandgevaar in ander dele van die land sal toeneem.

Die wêreld het “’n gevaarsone van uiterstes in weeromstandighede” betree namate die weerverskynsel El Niño, globaal begin merkbaar word.
António Gutteres, hoof van die Verenigde Nasies, het die waarskuwing in die eerste week van September gerig en gewys op data wat deur die Wêreld Meteorologiese Organisasie oor die verskynsel vrygestel is.
Die Nasionale Rampbestuursentrum het ook ’n waarskuwing uitgereik oor die impak van die weerverskynsel op Suid-Afrikaanse weer.

Prof. Guy Midgley, ’n klimatoloog en direkteur van die Skool van Klimaatstudies aan die Universiteit van Stellenbosch, sê die ontwikkeling van El Niño het volgens die internasionale klimaat- en oseaanvoorspellings plaasgevind.
Midgley waarsku dat Suid-Afrika ook nou op die drumpel staan van ’n moontlik uitdagende somer nadat El Niño, nou gevestig is en na verwagting minstens tot vroeg in 2027 sal voortduur.
Klimaatwetenskaplikes waarsku dat veral hitte, waterbeskikbaarheid en veldbrande die land se grootste uitdagings kan wees, terwyl die Wes-Kaap reeds ná een van sy droogste winters in jare onder druk verkeer.
Wetenskaplikes het reeds sedert middel-2025 verwag dat die wêreld uit ’n La Niña-fase sou beweeg en dat die Stille Oseaan daarna aansienlik sou opwarm. “Ons is in ’n El Niño, sonder twyfel,” sê hy.

El Niño verhit die Stille Oseaan, wat winde verswak en droogte sowel as hittegolwe na Suider-Afrika bring. La Niña is die koue fase met sterker winde, wat juis bogemiddelde reënval en oorstromings in die streek veroorsaak.
Die see-oppervlaktemperature in die ENSO 3.4-gebied van die Stille Oseaan het volgens hom skerp gestyg. Hierdie opwarming het die verwagte ontwikkeling van El Niño bevestig en voorspellings dui nou daarop dat die verskynsel tot minstens vroeg volgende jaar kan voortduur.
Die gebied is ’n spesifieke geografiese sone in die sentrale ekwatoriaal-Stille Oseaan wat weerkundiges wêreldwyd gebruik as die primêre veld om die El Niño-Suidelike Ossillasie (ENSO) te monitor en te definieer. Dit word beskou as die belangrikste area om te bepaal of die wêreldklimaat in ’n El Niño- (warm), La Niña- (koue) of neutrale fase is.
“Die presiese gevolge vir Suid-Afrika bly egter onseker. ’n Sterk El Niño beteken nie noodwendig dat elke streek dieselfde weerpatroon sal ervaar nie,” sê Midgley.
“Geen twee El Niños is dieselfde nie.”
Die geskiedenis bied nietemin rede tot versigtigheid.
Volgens Midgley was al die grootste droogtes in die tydperk waarvoor Suid-Afrika oor goeie weerrekords beskik, met El Niño-gebeure verbind.
Daar was wel El Niño-jare waarin ’n groot droogte nie gevolg het nie, maar dit is volgens hom die uitsondering eerder as die reël.
Hy glo die Wes-Kaap is veral kwesbaar. “Die provinsie het ’n buitengewoon droë winter gehad, met laer windsnelhede en net een betekenisvolle reëngebeurtenis. Dié gebeurtenis het boonop aansienlike skade veroorsaak,” verduidelik Midgley.
Die Wes-Kaap gaan nou die warmer, droër somermaande binne met damvlakke wat reeds laer is as wat ideaal sou wees. Indien die volgende winter weer min reën oplewer, kan waterbestuur ’n ernstige uitdaging vir stede en dorpe in die area word.
Die klimatoloog glo ook hitte kan egter die probleem wees wat Suid-Afrika eerste en die wydste raak.
Hy wys daarop dat die somerreënvalgebiede ervaar reeds hoë temperature, terwyl buitengewone hitte in dele van die Noordelike Halfrond gepaard gegaan het met groot veldbrande.
Midgley sê Suid-Afrika moet teen die einde van vanjaar en gedurende die somer op hoë temperature en toenemende hittestres voorbereid wees.
Die geskiedenis het geleer, glo Midgley, dat die gedrag van El Niño verder dui op die moontlikheid dat reënval in sekere dele onder die langtermyngemiddeld kan wees.
“Dit kan lei tot ’n lang, warm tweede helfte van 2026, gevolg deur ’n warm en moontlik droë begin tot 2027,” sê hy.
Volgens hom hou veldbrande intussen ’n besondere gevaar in die somerreënvalgebiede in.
Hy glo voedselsekerheid lyk op die kort termyn minder kommerwekkend.
“Boere in die somerreënvalgebiede en dele van die winterreënvalgebiede het goeie oeste gehad. Die groter onsekerheid lê buite Suid-Afrika se grense, waar buitengewone hitte in ander groot landboustreke moontlik oeste kan beïnvloed,” verduidelik hy.
Wat uiteindelik in Suid-Afrika gebeur, sal egter nie net deur El Niño bepaal word nie.
Plaaslike weerpatrone kan aansienlik verskil en klimaatmodelle kan nie altyd die uitwerking van ’n groot oseaanverskynsel op grondvlak presies voorspel nie.
“Daarom sal nuwe weerdata en opdaterings oor die komende maande belangrik wees,” sê hy.
Suid-Afrika beskik volgens Midgley oor ’n sterk weerdiens en goeie modelleringsvermoë, terwyl internasionale wetenskaplikes ook voortdurend hul vooruitsigte aanpas soos nuwe inligting beskikbaar raak.
Hy glo die huidige El Niño bied terselfdertyd aan wetenskaplikes ’n geleentheid om meer oor die klimaatstelsel te leer. Elke nuwe gebeurtenis verskaf data waarmee toekomstige voorspellings verbeter kan word.
“Die werklikheid is altyd beter as ’n model. Vir eers is die boodskap egter een van waaksaamheid,” sluit hy af.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel