Centurion egpaar oorwin Marathon des Sables ten spyte van terugslae
Ondanks ernstige terugslae en gevaarlike blootstelling aan die elemente het Genis en Tanya Pieterse van Centurion onlangs die moordende Marathon des Sables suksesvol voltooi.
“Dit voel soos om in die hel te wees en al wat jou voortdurend dryf is die begeerte om uit te kom…”
Só het Tanya Pieterse haar ervaring in die Sahara-woestyn verlede week aan Rekord opgesom, nadat sy en haar man, Genis teruggekeer het van hul avontuur in Marokko. Hulle het die Marathon des Sables suksesvol voltooi.
Tanya het slegs twee jaar gelede aan veldwedlope (trail running) begin deelneem en hierdie was haar eerste internasionale. Genis het reeds twee jaar gelede ook die Marathon des Sables suksesvol voltooi.
Die Marathon des Sables is basies ’n sewedag-avontuur waartydens atlete deur die Sahara-woestyd in die suide van Marokko hardloop. Dié wedloop staan onder deelnemers bekend as “The toughest footrace on earth”.
Genis het met hul tuiskoms aan Rekord vertel dat hulle tydens dié wedloop binne enkele dae uiterste teperature, sandstorms en stormsterk wind moes trotseer. By sommige punte, waar hulle oor bergpieke moes beweeg, het die kwik soms tot onder vriespunt gedaal, terwyl 58 grade celcuis die hoogste temperatuur was wat op ’n ander dag in die woestyd gemeet is.
Tanya, wat aan hoogtevrees ly, moes sommer op dag twee reeds haar eerste groot uitdaging in die gesig staar toe hulle bo-op die kruin van ’n berg moes hardloop. Sommige van die sandduine waaroor hulle moes hardloop was self vir haar ’n uitdaging ten opsigte van die hoogte.
Tanya se grootste uitdaging was egter op dag vier toe sy weens ’n glukose-tekort letterlik blind geword het. Dié fyn blondine het egter leeuemoed en groot deursettingevermoë vertoon toe sy besluit het om ondanks dié terugslag voort te gaan met die wedloop, terwyl haar man haar moes lei. Hulle het op dié dag die moeilikste skof van 91km voltooi met net twee ure se slaap tussendeur.
“Ek kan vandag nie glo ek het dit gedoen nie, maar daar in die woestyd het ek besef hoe sterk ’n mens se psige kan wees. Ek het aan my dogter en my toekomstige kleinkinders gedink en besef watter troste verhaal ek eendag vir hulle sal kan vertel as ek sou vasbyt,” het sy aan Rekord vertel.
Behalwe vir die blindheid het Tanya boonop baie pyn verduur weens blase onder haar voete. Na ’n paar dae se hardloop het sy ook al haar toonnaels verloor en sy moes by elke ruskamp mediese behandeling kry.
Ondanks al die terugslae kon dié Centurion egpaar die wedloop binne die wettige spertyd voltooi en hul vreugde en verligting het geen perke geken toe hulle met ’n groot Suid-Afrikaase vlag oor die eindpunt kon hardloop nie.
Genis se verslag in meer besonderhede en nog foto’s oor hul avontuur kan op die internet-blog gelees word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
