Bekende elektrisiën in sy huis vermoor
Vriendin kom op vermoorde man se lyk af in sy huis in Hermanstad.
‘n Bekende elektrisiën is in sy huis in Hermanstad, wes van Pretoria, vermoor.
Cornelius Heij (80) se vriendin het in sy huis op sy lyk afgekom, sê Hercules se polisiewoordvoeder, kaptein Bonginkosi Msimango.
Heij, beter bekend in die gemeenskap as ‘Oom Chris’, was vasgebind met ‘n telefoonkabel en sy mond was toegebind met ‘n handdoek.
“Sy het hom omstreeks 03:00 Maandagoggend in die kombuis van die huis gekry.”
Die vriendin het dadelik haar ma geskakel, wat die polisie verwittig het.
“Ons is onseker watter voorwerp gebruik is om Heij dood te maak. Hy het sigbare wonde aan sy gesig gehad en ons vermoed dat daar ‘n struweling was,” sê Msimango.
Hy het baie mense se motors herstel en was bekend as ‘n knap elektrisiën. Inwoner Lena Venter sê: “Ek het hom nie so goed geken nie maar hy het ons partykeer met ons kar gehelp. Hy was baie behulpsaam en ‘n mens kon enige tyd op sy knoppie druk as jy ‘n probleem gehad het.”
Boodskappe van medelye het ingestroom na die gemeenskapsgroep se Facebook-bladsy na die nuus van Heij se dood.
Die polisie stel ondersoek in.
“Ons is nog steeds besig om te bepaal of enigiets uit die huis gesteel is. Vir nou ondersoek ons ‘n moord en ons het ‘n moorddossier geopen,” sê Msimango.
“Ons doen ‘n beroep op mense om vorendag te kom as hulle enige inligting oor die moord het.”
Lees ook:
Ma herleef kinders se skok-skietdood
Gauteng het die meeste plaasmoorde
Hawelose vrou se moordenaars dalk gevang
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
