Familie het niks na ‘n brand
Akasia-familie het hulp nodig nadat al hulle besittings in hul huis brand.
’n Akasia-gesin in die noorde van Pretoria het alles verloor toe hulle huis afgebrand het. Die brand het Saterdagaand uitgebreek nadat ’n veeldoelige-muurprop ontplof het.
“Die krag het afgeskakel toe kom dit weer aan. Die veeldoelige-muurprop het toe ontplof en alles wat op die vloer was, het begin brand,” sê Lieza Engelbrecht.
“Ek het probeer om die brand te blus, maar kon nie. Gelukkig was my ander twee kinders nie in die huis nie. Net my oudste dogter was by my.”
Engelbrecht sê haar pa het met ’n veeldoelige-brandblusser kom help. Engelbrecht en haar ander familie woon saam op die kleinhoewe in Akasia, maar elkeen van hulle het hul eie huis.
“Ons het uit die huis gehardloop, my swaer en pa het die diere uit die huis gehaal. Alles het so vining uitgebrand,” sê Engelbrecht.
Sy sê die brandweer het by die kleinhoewe opgedaag en aanvanklik gesukkel om toegang tot die eiendom te kry, weens ’n laning bome wat ruig groei. Nadat die brandweermanne ’n pad oopgekap het, kon hulle uiteindelik die brand blus.
“Ons was besig on te trek want die plot is verkoop. Ons het al ons klere en ander besittings in bokse gepak en dit het ook uitgebrand. Al my kinders se foto’s is ook verwoes.”
Die gesin het alles verloor en benodig beddegoed, klere, skoene, skooltasse en speelgoed vir die kinders. Engelbrecht het twee seuns (sewe en agt-jaar-oud) en ’n dogter van 16.
Die gesin is besig om na KwaZulu-Natal te trek en sal enige hulp waardeer. Enigiemand wat ’n skenking wil maak, kan Lieza op 072-431-2822 skakel.
Lees ook:
Oorsaak van noodlottige vliegtuig ongeluk steeds onbekend
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

