Uit die mond van ‘n suigeling word nuwe sterre gebore
Die meisietjie en seuntjie wat die jong Mossie en Adriaan in die nuwe Afrikaanse jeugdrama Mossie gaan speel, is Woensdagoggend gekies.
Die vervaardigers van die nuwe Afrikaanse jeugrolprent, Mossie, het toe uiteindelik besluit wie die twee kinders gaan wees wat hul debuut as akteurs gaan maak.
Andre Frauenstein, wat ook die vervaardigers van die rolprent Treurgrond was, het sowat twee weke gelede aangekondig dat hulle op soek is na ’n dogter en seun om die rolle van die jong Adriaan en Mossie in ’n nuwe jeugrolprent te vertolk.
Frauenstein en die regisseur Darrel Roodt het Vrydagmiddag by die Forever Resort hotel in Centurion oudisies vir 20 hoopvolle dogters en 10 seuns gehou.
Die kinders se ouderdomme het gewissel tussen 4 en 10 en die haasbekkies het vir ure se vermaak gesorg. Roodt en Frauenstein het die kinders ’n paar vrae gevra, net om hulle spraakvermoë en spontaneïteit te toets.
Jana Gouws (7) het aan Frauenstein en Roodt vertel dat sy “daar anderkant bly”.
‘Daar anderkant’ is nou Southdowns. Haar held, sê sy, is God. “Maar ek weet nie regtig hoekom nie.”
Tamson Jackson (6) het met groot smaak vertel dat sy ’n hond Yster heet, en Yster byt mense as hy hulle nie ken nie.
“Oeps,” het Fraunstein gefluister, “ek gaan nie naby daardie hond kom nie.”
Natalie Kabul (6) het die oë laat rek toe sy vertel het dat hulle gesin ’n troetelspinnekop genaamd Charlotte het.
En Lara van Rooyen, wat net vier jaar oud is, het vertel van haar voëltjie wat Springbokkie heet.
Maar dit is Alani Nel (7) wat uiteindelik die harte gesteel het en die rol van die jonger Mossie losgeslaan het.
Sy is ‘n amper-replika van Danica Fourie (17) wat die rol van die ouer Mossie gaan speel. Hulle het beide donkerbruin hare en donker oë en hulle neusbrûe is besaai met sproetjies.
Nel was erg geskok toe “oom Andre” (Frauenstein) haar vra of sy diere het. Haar gesigsuitdrukking het veral beïndruk. “Hoe kan oom my nou so iets vra?”
“Ek het ’n dogtertjie hondjie (en sy het gebrei) wat op die wit beddegoed met haar modderpote spring. Dan word mamma baie, baie kwaad.”
Die seuns speel almal rugby en die ‘toneelspel-ding’ is sommer net ook om op televisie te wees, was die algemene mening.
Fraunstein sê hulle was nie so beïndruk met die seuns nie, maar hulle het tog daarin geslaag om ’n jong Adriaan te kry.
Deandre Reiners, wat in die onlangse rolprent Seun te sien was, speel die rol van die ouer Adriaan.
Juan-Adriaan de Beer (8) het die rol van die jong Adriaan losgeslaan.
Hy het reeds daardie Donderdag ’n oudisie afgelê en teen druktyd was daar nog nie ’n foto van hom beskikbaar nie.
Lees ook:
Akteurs gesoek vir nuwe jeugrolprent
Treurgrond oortref verwagtinge
Skokrolprent laat mense na sneesdoekies gryp
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.



