Prooi – meesleurende leesstof, vol aksie
Fanie Viljoen se jongste sielkundige riller nou beskikbaar.

Die eerste volwassse roman uit die pen van Fanie Viljoen beloof om lesers en kritici te laat regop sit. Propvol aksie, drama, intrige en natuurlik romanse.
Lesers en aanhangers van dié befaamde skrywer sal nie teleurgesteld wees nie.
Prooi, ‘n sielkundige riller, neem die leser op ‘n reis waar drie lewens onomkeerbaar inmekaar verstrengel raak. Aan die een kant is Cody Young, ‘n sexy player, wat deur losbandige seks desperaat op soek is na homself.
Dan is daar Owen Jooste, ‘n hokvegter met groot drome maar wat sukkel om sy aggressie te beheer. Tussen die twee staan Lauren Cooper, die beeldskone verleidster wat stadig maar seker op ‘n pad van selfvernietiging beland.
Cody en Owen ken mekaar nie, elkeen met ’n donker lewe agter hulle, al twee onweerstaanbaar. En albei het ’n ding wat hulle jaag, hulle lewe oorheers.
Vir Cody is dit die jag op meisies, soveel as moontlik, so gou en so kortstondig as moontlik. Want die jag gaan immers oor hom en wat hy aan homself moet bewys.
Vir Owen is dit die brute krag wat hy in die gimnasium opbou, wat hy daarmee kan vermag, die geveg wat hy daarmee kan wen en só sy groot deurbraak kan maak: Verloor is nie ’n opsie nie. Baklei tot jy breek. Uiteindelik is dit Lauren wat hulle paaie laat kruis.
Só word sy hulle gemeenskaplike obsessie, dalk omdat sy ook op ’n noodlottige pad is en die verraderlike spel beter kan speel as wat syself vermoed het. Tussen alles deur duik een onheilspellende naam telkens op: Black Valentine.
Maar wat gaan aan in die sinister nagklub? Bestaan dit werklik of is dit, soos die meeste mense glo, slegs ‘n urban legend?
“Fanie het die uitstekende vermoë om ‘n onheilsgevoel te laat opbou, een wat die leser weet op niks goed kan uitloop nie. Soms skemer die opbou tot onheil baie subtiel deur, maar dis deurgaans daar. Min skrywers kan dit regry,” het bekroonde skywer Chanette Paul oor Prooi te sê.
Fanie Viljoen is een van Suid Afrika se topverkopers en sy naam het die afgelope twee jaar reeds meer as vyftig keer op Nielsen se topverkoperlyste verskyn.
Die Bloemfonteinse skrywer het meer as dertig kinder- en jeugverhale agter sy naam, die twee opspraakwekkendste Pleisters vir die Dooies (oor ‘n skoolskieter) en Uit (oor ‘n gay seun se soeke na aanvaarding). Sy werke vir volwassenes was tot dusver beperk tot radiodramas, gedigtes en kortverhale.
Prooi, is beskibaar by toonaangewende handelaars asook direk by LAPA Uitgewers. Vir meer inligting skakel 012-401-0700 of besoek www.lapa.co.za.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
