Hartseer pa dankbaar vir gebaar
’n Pa wie se dogter verlede Woensdag in ’n gru-motorongeluk oorlede is het sy dankbaarheid uitgespreek teenoor 'n nuwe projek wat padveiligheid bevorder.
Die 19-jarige Anri Pouwels, wat ‘n gru-motorongeluk verlede Woensdag oorleef het, is Saterdag uit die Netcare Montana-hospitaal ontslaan.
“Sy het nog baie seer, maar dit gaan beter,” sê haar pa Klaas.
Anri en haar 20-jarige suster was omstreeks 15:00 in Sefako Makgatho-rylaan in ’n ongeluk betrokke. Tilani is in die ongeluk dood.
Klaas vertel: “Tilani se voet het die Dinsdag seergekry en sy het Anri gevra om haar na haar deeltydse werk as Au Pair te bring. Op pad soontoe het die ongeluk plaasgevind.”
Tilani was ’n derdejaar oudiologie-student aan die Universiteit van Pretoria.
“Sy sou op 19 September 21-jaar-oud geword het. Sy was die oudste en so ’n volwasse kind. Sy het ’n sprankelende persoonlikheid gehad,” sê haar pa.
Die Pouwels-egpaar, Klaas en Carolie, Waverley-inwoners, het hul dankbaarheid teenoor Montana-inwoners uitgespreek wat die “rooi-projek” van stapel gestuur het.
Die projek behels die aanbring van rooi baniere in die rylaan om die noodsaak van padveiligheid te beklemtoon.
Dit is verlede Vrydag deur Charlie Visser en haar twee dogters Chanté en Nicolene begin nadat hulle die wrakstukke na die ongeluk gesien het.
Chantel Groenewald-Hart verleen ook ’n helpende hand.
Nadat die eerste rooi banier Vrydagoggend opgehang is, het Visser goeie reaksie van ander inwoners ontvang.
“Almal wil dit doen en die plan is om die hele Sefako Makgatho-rylaan vol rooi baniere te hang om padveiligheid te bevorder.”
Klaas sê hy en sy gesin is diep geraak deur die gebaar. “Dit is net ’n jammer dat die projek op hierdie wyse moes begin.”
Tilani laat haar twee susters Anri en Mia (8), asook haar broer, Tiaan (13), agter.
Die Sinoville-polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.
In nog ’n motorongeluk verlede Woensdagmiddag — in Britsweg — het twee susters hul lewens verloor.
Carli Huyser (19) en haar suster Laurie (17) was op pad van Lichtenburg na Pretoria toe hulle in ‘n ongeluk naby Brits gesterf het.
Klaas versoek enige ooggetuies om na vore te kom.
Lees ook:
Strafbare manslag ondersoek na vrou se dood in Zambesi ongeluk
Pretoria sussies sterf in ongeluk
Jong vrou sterf in Zambezi-ongeluk
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
