“Dat my pa só moes sterf is onmenslik.”
Monica van Wyk sukkel steeds om haar pa se dood te verwerk.
Monica van Wyk, ’n inwoner van Faerie Glen, die dogter van Johan Stevens (65), die afgetrede onderwyser wat op Donderdag 9 Julie tydens ‘n rooftog deur ’n bende doodgeskiet is, sê sy sukkel om haar pa se dood te aanvaar.
“Partykeer wil ek nog die foon optel, my pa bel en vra hoe om deur hierdie tyd te kom. Dit voel nog onwerklik dat hy weg is. Dat my pa só moes sterf is onmenslik.”
Volgens Van Wyk was Stevens 17:30 na ’n Spar in Kibler Park om inkopies vir sy ma te doen. “My oupa, ’n afgetrede onderkommissaris van die SAPD, is ’n paar maande gelede dood en my ouma bly sedertdien by my pa.”
Toe Stevens klaar sy inkopies by die Spar gedoen het hy by die Tops-drankwinkel ’n draai gemaak. Terwyl hy in die drankwinkel was het ’n bende van nege gewapende mans ingestorm en die winkel en klante beroof.
Stevens is tydens die rooftog doodgeskiet.
“Ek wil nie die beeldmateriaal sien nie. Spar se bestuur het wel, en hulle het vir my gesê dat die beeldmateriaal duidelik wys hoe my pa sy beursie vir een van die rowers aanbied. Toe hy dit doen het die een man hom in die bors geskiet. Toe hy val, het hy sy hande in die lug gesteek om te keer, maar die man het hom daarna in sy gesig geskiet. Elkeen van die mans se gesigte is duidelik sigbaar want nie een het ’n masker gedra nie.”
“Daar is nie woorde vir so iets nie. Barbaars is nie sterk genoeg nie. Dit is onmenslik.”
Sy het bygevoeg berigte dat Stevens nie sy beursie wou oorhandig nie is vals. “Blykbaar op die beeldmateriaal kan mens duidelik sien dat hy sy beursie, wat net R50 in gehad het, oorhandig het,” het sy gesê.
“My pa was ’n ongelooflike goeie mens. Hy was die beste onderwyser wat het ek ooit teëgekom het. Alhoewel hy al afgetree het, het hy steeds klasgegee. Hy het minderbevoorregte kinders besoek en tot laat in die aande saam met hulle gesit en hulle met skoolwerk gehelp. Hy was verskriklik liefdevol en altyd bereid om ander te help,” het Van Wyk gesê.
“Sy dood is nie net ’n verlies vir my en my kinders nie, maar die hele gemeenskap. Hy was ’n ikoon.”
Stevens se begrafnis vind Vrydag 17 Julie by die NG kerk, Forest Hill om 14:00 plaas.
Also read: Woman shot in retirement village
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook or follow us on Twitter.
- We have exciting news! We’re offering a free alert to help you always be in the loop. Send an email with the word ‘Subscribe’ to breakingnews@rekord.co.za to receive your free daily breaking news update.


