Brandweeroffisier spring VSA se sand los
Pretoria brandweeroffisier hou die stad se naam hoog by internasionale toernooi.
Kobus Breedt, ‘n brandweeroffisier van Pretoria het Suid-Afrika se vlag hoog laat vlieg by die onlangse World Police and Fire Games in Fairfax, Virginia in die VSA.
Breedt (42) het twee goue en twee bronsmedaljes by die toernooi gewen. Hy was een van 29 atlete wat Suid-Afrika by die spele verteenwoordig het.
Die Suid-Afrikaanse span, wat net een Pretorianer, Breedt, bevat het, het altesaam 12 medaljes huis toe gebring. Vier goud (drie vir atletiek en een vir tennis), vier silwer (een vir tennis, een vir armdruk en twee vir toutrek) asook vier brons vir atletiek.
“Die spele is ‘n ongelooflike ervaring,” sê Breedt.
“Ek het altyd aan die twee-jaarlikse brandweerspele deelgeneem, maar ongelukkig het dié toernooi platgeval. Hierdie was die eerste keer wat ek aan die gekombineerde spele deelneem.”
By vanjaar se World Police and Fire Games het 12 000 atlete van 61 lande aan 67 verskillende sportsoorte deelgeneem.
Breedt het twee medaljes vir atletiek en twee vir spronge gewerf. “Ek spot altyd en sê ‘niemand speel rond in my sandput nie’,” sê hy laggend. Hy het ‘n bronsmedalje vir verspring gewen en ‘n goue vir die driesprong. Hy het ook ‘n bronsmedalje in die 110m hekkies gewen, asook ‘n goue medalje vir die 400m aflos, waaraan hy saam met drie ander atlete van ander lande deelgeneem het.
“Alhoewel ek al jare lank deelneem aan hierdie spele gaan hierdie moontlik my laaste een wees. Elke keer kry ek borge wat my help om die enorme koste om na die spele te gaan, te dek. Ek wil graag vir elkeen van hulle dankie sê. Sonder hulle sou ek nooit kon oorgaan nie.”
Dit beteken egter nie dat hy gaan stil sit nie. “Ek neem binnekort aan ‘n atletiektoernooi deel, en ek hoop om my Gauteng-Noordkleure vir verspring te kry.”
Breedt sê sy ongelooflike resultaat is te danke aan sy afrigter. “Ek oefen sedert 2012 saam met Jerry Senekal van J.S. Atletiekklub. Sedert hy my onder sy vlerk geneem het, het my tye en spronge ongelooflik verbeter. Ek is dankbaar vir alles wat hy vir my gedoen het.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
