EntertainmentLifestyleLocal LifestyleNews

Jou lewe, jou pas, jou pad: Sanger maak geraas met 'Rebel'

Met 'Rebel’, pak Weán van der Westhuizen ’n onderwerp aan waarmee ’n nuwe generasie maklik kan vereenselwig: die stryd tussen wie die wêreld verwag jy moet wees en wie jy self wil word.

’n Eiendomsagent van Pretoria in sy twintigs se nuwe Afrikaanse enkelsnit, Rebel, gee ’n stem aan jongmense wat onder die druk van verwagtinge, onsekerheid en ander se opinies probeer uitvind wie hulle werklik is.

Wat studeer jy? Wanneer kry jy ’n “regte” werk? Wanneer gaan jy trou? Wanneer koop jy ’n huis? Wat doen jy volgende? En is jy al waar jy op jou ouderdom veronderstel is om te wees?

Vir baie jong Suid-Afrikaners voel grootword vandag soos ’n eindelose lys vrae, verwagtinge en opinies oor hoe hul lewens behoort te lyk. Dit is juis hierdie druk en die behoefte om soms net te sê “genoeg”, wat die inspirasie geword het vir Rebel, die nuwe enkelsnit deur die opkomende Afrikaanse sanger en liedjieskrywer Weán van der Westhuizen.

Soeke na jouself

Met ’n moderne alternatiewe Afrikaanse klank en ’n sterk, energieke ritme pak Rebel ’n onderwerp aan waarmee ’n nuwe generasie maklik kan vereenselwig: die stryd tussen wie die wêreld verwag jy moet wees en wie jy self wil word.

“Jy word groot en dan is daar steeds mense wat vir jou wil sê hoe jy moet leef,” vertel Weán. “Daar is vandag soveel dinge wat in jongmense se pad staan om te floreer en soms raak dit net te veel. Rebel gaan oor iemand wat uiteindelik besluit om sy of haar eie pad te volg en nie voortdurend volgens ander mense se opinies te leef nie.”

Maar die lied se boodskap is nie dat jongmense roekeloos teen alles moet rebelleer nie. Inteendeel.

Vir Weán beteken ’n “rebel” iemand wat bereid is om verantwoordelikheid vir sy of haar eie lewe te neem, selfs wanneer daardie pad anders lyk as wat familie, vriende of die samelewing verwag het.

Inspirasie agter die lied

Weán het Rebel self geskryf en die inspirasie daarvoor kom grootliks uit sy eie lewe.

“Ek het, soos baie ander mense, ná skool gaan studeer en probeer om my ouers gelukkig te maak deur die ‘regte’ dinge te doen. Maar die lewe werk nie altyd so eenvoudig uit nie. Ek het geleer jy moet vir jouself opstaan en vir jouself ’n pad maak, want niemand anders gaan dit namens jou doen nie.”

Sy lewensmotto het daarom eenvoudig geword: “Take more risks.”

“Wie weet wat aan die ander kant vir jou wag?” vra hy. “Ek het inspirasie gekry by baie van my vriende wat deur moeilike tye gegaan het, maar ook uit my eie op- en afdraandes. Daar was mense wat vir my gesê het ek moet dinge anders doen, maar ek moes uiteindelik self uitvind wat vir my werk.”

Dit beteken egter nie dat elke besluit wat hy geneem het, noodwendig die regte een was nie.
Weán erken openlik dat sy eie rebelse “voel ’n veer”-houding hom soms op moeiliker paaie geneem het.

“Ek het beslis al die houding gehad van: ‘Ek gaan doen wat ék wil.’ Ek het later besef dit kry jou nie altyd waar jy wil wees nie. Maar selfs daardie foute het my sterker gemaak en gevorm tot die mens wat ek vandag is.”

Weán glo dat Rebel veral aanklank sal vind by die Afrikaanse jeug. Nie omdat almal noodwendig dieselfde uitdagings beleef nie, maar omdat byna almal op ’n stadium die gewig van verwagtinge voel.

“Ek dink baie mense voel vandag soms gedreineer, asof hulle net wil opgee. Ek weet wanneer ek ’n moeilike dag het, is een van die eerste dinge wat ek doen om musiek aan te sit. Wat ek op daardie oomblik luister, pas gewoonlik by hoe ek voel.”

Hy hoop Rebel kan daardie lied vir iemand anders wees.

“Ek wil hê iemand moet dit aansit wanneer hulle ’n slegte dag het en daarna ’n bietjie ligter voel. Ek wil hê hulle moet dink: miskien is alles nie so swaar soos wat dit nou voel nie. Miskien moet ek net aanhou.”

Die boodskap is ook vir diegene wat nog nie die groot antwoord op die vraag “Wat wil jy met jou lewe doen?” het nie.

Sy musiekstyl

Musikaal wil Weán met Rebel ook ’n vars rigting verken.

Hy beskryf sy styl as gemaklike, alternatiewe Afrikaans. Musiek wat modern en vir die jeug is, lekker genoeg is om hard gespeel te word, maar steeds iets het om te sê.

“Ek wil graag ook ’n diep boodskap lewer,” verduidelik hy.

Onder die kunstenaars wat hom inspireer, tel Barto, Zaan Sonnekus en Spoegwolf. Hy bewonder veral kunstenaars wat betekenis in hul lirieke plaas en nie bang is om hul eie identiteit in hul musiek te wys nie.

Internasionaal het Milky Chance se alternatiewe aanslag hom ook geïnspireer.

“Ek hou van daardie alternatiewe styl en ek voel daar is nog baie ruimte om iets soortgelyks op ’n unieke Afrikaanse manier te doen.”

Sy musieksmaak strek egter wyd. Hy luister na Afrikaanse musiek, pop en moderne dansmusiek, terwyl Johnny Clegg ook een van die kunstenaars is vir wie hy groot bewondering het.

Dit sluit aan by sy eie siening van wat musiek behoort te doen: “Musiek bring mense bymekaar, maak nie saak wie jy is of waar jy vandaan kom nie.”

Rebel deur Weán van der Westhuizen is op digitale musiekplatforms beskikbaar.

Weán van der Westhuizen se nuwe enkelsnit ‘Rebel’.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button