Local newsNews

‘n Roos elke Sondag vir Cora-Marie

Hy besoek haar graf elke Sondag en dan gesels hy land en sand. Sy is wel al 21 jaar gelede dood, maar Shaun Mynhardt hou haar lewendig. Sy is en sal altyd sy "tannie Cora-Marie" wees.

“Gee haar ‘n roos. ‘n Roos vir haar. Gee haar ‘n roos. Dit is al wat ek vra.”

‘n Sagte stem het Dinsdagoggend bo die grafte van die Pretoria-Oos-begraafplaas uitgestyg. ‘n Treffer uit die jare tagtigs, maar Shaun Mynhardt (31) het dié liedjie net vir een vrou gesing – die vrou wat al die afgelope 21 jaar langs die skadu van ‘n groot boom rus.

Cora-Marie Myburg staan daar op haar grafsteen. Daar was net een soos jy. Gebore: 3 Januarie 1953. Gesterwe: 8 Julie 1994.

Sedert dié oud-Kapenaar in Maart vanjaar uit die Kaap na Pretoria verhuis het, besoek hy haar graf elke Sondag.

Dit het al ‘n roetine geword: Hy stop by die Woolworths in Garsfonteinweg. Koop ‘n bos rose ( Dinsdag was die rose pienk) en gaan sit vir ‘n uur by haar graf en gesels met haar. “Ek kan haar gees híér voel. Ek weet sy luister na my.”

Mynhardt — verlangs familie van die akteurs Patrick en Siegfried Mynhardt — is al die afgelope agt jaar in beheer van haar ondersteunersklub – “jip, sy het nog sowat 3 000 ondersteuners wat gereeld die webwerf besoek” – en hy het ook in 2012 Gee haar ‘n roos – die lewensverhaal van Cora-Marie geskryf.

Net sowat 3 000 mense het die boek gekoop en die uitgewers het ook maar lang tand aan die biografie gebyt. Cora-Marie is mos al lankal dood en vergete.

Maar nie vir Mynhardt nie.

Hy was net ses toe sy ouma Ann vir hom ‘n Cora-Marie-kasset gekoop het. Vir die seuntjie het die hemel oopgegaan. Toe hy sewe was het hy vir die eerste keer na “tannie Cora-Marie” se konsert gaan kyk.

En toe het hy die “mooi bossiekop-tannie” ontmoet.

Hy het hom verkyk aan die vrou. Mooi. So mooi, Met ‘n groot persoonlikheid. Hy het vir haar begin briefies skryf en sy het teruggeskryf.

Later het hy haar gebel en vir ure met sy “tannie Cora-Marie” gesels.

En toe hy elf was, het hy gereeld na die RSG-inbelprogram Iets vir Iets ingebel en so het al Cora-Marie se lewendige vertonings ( wat opgeneem is), musiekvideo’s en selfs ‘n video van haar begrafnis by hom beland.

Een aand, in die winter van 1994, het sy pa na die Afrikaanse nuus gekyk. Sy pa: “Seun, tannie Cora is dood.”

“Ek het gehuil en gehuil.”

Sy pa het vir hom ‘n vliegtuigkaartjie gekoop sodat hy haar begrafnis kon bywoon.

En elke aand – aand na aand – het hy na haar liedjies geluister. Gee haar ‘n roos. Mamma Leonie. Hy ken elke liedjie uit sy kop.

“Ek het goeie vriende met haar man, oom Corrie ( nou ookal oorlede) geword en hy het my toestemming gegee om haar lewensverhaal te skryf.”

Cora-Marie is in 1992 met dikdermkanker gediagnoseer. In haar dagboek, wat Mynhardt ook in sy besit het, het sy geskryf dat sy ‘n geloofgeneesheer besoek het en vir 40 dae niks geeët het nie.

“Niemand het dit ooit geweet nie, maar Cora-Marie is as ‘n arm vrou graf toe. Sy het al haar geld op dokters en geloofgenesers spandeer.”

Mynhardt hou ook so twee keer ‘n jaar ‘n huldeblykkonsert met ou legendes soos James Lance, Min Shaw en Tommy Dell.

Dink mense nie soms dat hy Cora-Marie se naam misbruik om geld te maak nie?

So ‘n geskokte stilte. “Is dit wat mense dink? Ek doen alles wat ek doen net vir Cora.” Sy oë op haar grafsteen. “Ek breek soms net gelyk met die huldeblykkonserte. Ek het ook nie geld uit haar boek uit verdien nie. Ek doen dit vir haar. Niemand mag haar ooit vergeet nie.”

Dinsdag was daar pienk rose in die blompot langs haar grafsteen. Volgende week gaan Mynhardt rooies koop. Of dalk wittes. “Totsiens, tannie Cora,” sê hy terwyl hy stadig wegstap.

– Die volgende huldeblykkonsert vind op 31 Oktober by die Centurion-teater plaas.

https://www.youtube.com/watch?v=QllV8-31qA8

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button