Top rugbyafrigter kry erkenning in Amerika
Die merkwaardige rugby-afrigter van Pretoria, Jan Boot, is pas aangewys as die nuwe afrigter van een van Amerika se top klubs, die Dallas Harlequins.
“Die hele lewe is ’n kompetisie…”
Hoewel hierdie woorde slegs as ’n terloopse opmerking bedoel is tydens Rekord se gesprek met rugby-afrigter Jan Boot, kom ’n mens gou agter dat dít een van die waarhede is waarvolgens hy sy eie daaglikse omgang inrig.
Boot beskou nie net die hele lewe as ’n kompetisie nie, maar hy kán daarin meeding, want tot dusver het hy in sy 40 jaar op aarde baie meer oorwinnings behaal as wat hy verloor het in die “kompetisie van die lewe”.
Hoewel Boot as gevolg van ’n geboorte-defek nie die volle gebruik van sy linkerhand het nie, het dié gebrek hom nooit ’n verskoning gegee om nie sy drome na te jaag nie.
In sy matriekjaar speel hy vir Hoërskool Zwartkop se eerste rugbyspan én vir die Blou Bulle se Cravenweekspan as loskopstut, ondanks die feit dat hy nie al sy vingers in sy linkerhand het om in die skrums te kan bind nie.
Daarna speel hy vir Tukkies se o.19 en o.21 spanne en ná sy universiteitsdae ook Carltonbeker-rugby vir die Centurion-rugbyklub.
In daardie tyd byt die afrigtingsgogga ook reeds en terwyl hy as speler presteer, het Boot by Hoërskool Zwartkop en Centurion se jeugklub as afrigter betrokke geraak.
In 1999 vertrek hy vir drie jaar na Amerika om daar vir die Dallas Harlequins uit te draf. Dié klub het ’n interessante Suid-Afrikaanse verbintenis.
In 1984, tydens Naas Botha se flirtasie met gridiron football het dié legendariese losskakel saam met sy Springbok-skakelmaat, Gawie Visagie, ook vir Dallas Harlequins uitgedraf. Trouens, dié klub het die eerste keer in sy geskiedenis die nasionale Amerikaanse liga gewen terwyl Botha en Visagie daar gespeel het.
By Boot se terugkeer na Suid-Afrika het hy hom slegs op afrigting begin toespits. Hy is betrek by Centurion se o.21 span en dáár het hy homself as legendariese afrigter gevestig.
Sy rekord as afrigter op dié vlak is ongeëwenaard. Sy o.21 span by Centurion het 60 uit ’n totaal van 63 wedstryde onder sy leiding gewen.
Later is hy as Centurion se Carltonbeker-afrigter aangestel en daar het sy sukses voortgeduur toe hy dié span twee keer tot in die Carltonbeker-halfeindstryd gebrei het.
Ook sy sukses as afrigter van die Blou Bulle se Amateurspan in 2004/5 het aan Boot toekennings soos die Blou Bulle se prys as Afrigter van die jaar in die sak gebring.
Hierna is Boot terug na Amerika, waar hy die geleentheid gekry het om Yale universiteit se eerste span af te rig. Daar het hy só ’n groot impak gemaak, dat sy invloed vandag nog in amptelike dokumente van die klub geprys word as die era waarin die klub se eerste span ’n wenspan geword het.
Sy prestasies is intussen ook in Nieu-Seeland raakgesien en ná sy tyd by Yale is hy genooi om meer by die beroemde Murry Mexted akademie in dié land te leer.
By sy terugkeer na Suid-Afrika, het Boot betrokke geraak by die nuwe Oostelikes-rugbyklub in Pretoria en ook dáár het hy sy towerstaf geswaai. In die span se heel eerste seisoen onder sy leiding haal dié klub die Carltonbeker-finaal, nadat hulle die vorige seisoen nog een van die sukkelspanne in dié gesogte liga was.
Nou is Boot op pad terug na Texas in Amerika. Hy is pas aangestel as Dallas Harlequins se nuwe hoofafrigter en hy is so opgewonde hieroor soos ’n kind wat nuwe speelgoed gekry het.
“Behalwe vir die feit dat ek uitsien na die uitdaging om van dié span weer ’n kampioenspan te maak, is daar altyd die kans dat dit nuwe deure daarna vir my kan oopmaak”, het hy aan Rekord gesê.
Hy erken dat hy ook droom van die kans om ’n top professionele span af te rig.
“Rugby is die vinnigste groeiende spansport in Amerika en selfs daar kan nuwe geleenthede ontstaan. Amerika sal nie veel langer in top klub- en franchise-kompetisies geïgnoreer kan word nie,” het Boot aan Rekord vertel.
Wie weet, dalk sien ons Jan Boot van Pretoria by ’n toekomstige wêreldbekertoernooi as die breier van Amerika se Eagles.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
