Centurion-akteur wen groot skrywersprys
Min het Jannes Erasmus geweet dat 'n eenmanstuk, wat hy as 'n finalejaar-projek ingedien het, hom twee jaar later 'n gesogte skrywersprys sou besorg.
Jannes Erasmus (25) het verlede Sondagoggend al gapend sy selfoon geantwoord. “Ek slaap nog,” was sy sarkastiese antwoord op die vraag of hy die goeie nuus gehoor het.
Toe was hy wawyd wakker; dié akteur van Centurion het een van die grootste skrywerspryse – The Pansa National Writers Award – gewen en hy was nie eens daar om dit te ontvang nie.
“Ek het nooit verwag dat ek ’n prys gaan kry nie en daarom was ek nie eens by die toekenningseremonie nie,” het Erasmus gelag. “Ek was op ’n Greyhound-bus op pad terug van die Grahamstown art festival na Pretoria en toe ek tuis kom het ek doodmoeg in die bed geval. Ek het eers daardie volgende oggend gehoor ek het gewen.”
Glad nie sleg vir ’n akteur wat nog nie eens sy gesig op 7de Laan gewys het nie… Maar wat reeds ’n groep getroue volgelinge het wat van die een Smaarties-vertoning na die volgende gaan.
Smaarties, sy heel eerste dramatiese eenmanvertoning, het die gesogte prys onder die neuse van vele hoopvolle teaterskrywers weggeraap.
Hy het die stuk geskryf, vervaardiger en ook self daarin gespeel.
En in die teaterkringe word daar al lank gemor dat die organiseerders van die Grahamstadse Kunstefees heel neusoptrekkerig oor Afrikaanse teaterstukke is.
Hy het ook ’n kontantprys gekry en terwyl akteurs moet speel, swoeg en sweet om net oorweeg te word vir die Grahamstadse Kunstefees, is hy genooi om weer volgende jaar ’n stuk daar op te voer. “Ek werk nog aan ’n konsep, maar dit gaan ook so innoverend soos Smaarties wees.”
Erasmus het dié stuk as finalejaar-projek vir sy dramastudies ingedien. “Nadat ek gegradueer het, het ek vir die een oudisie na die ander gegaan. Ek het toe besef dat ek my eie werk moet skep.”
“Sowat twee jaar gelede het een van my professore gesê die staatsteater is op soek na nuwe produksies. Ek het die stuk geskryf met ’n akteur in gedagte, maar die akteur het onttrek en ek moes toe self in my eie stuk speel.”
Smaarties is die verhaal van mnr Lotz, ’n middeljarige man, wat met skisofrenie gediagnoseer is. In ’n oomblik van waansin breek hy sy vrou sy nek. Die geskiedenis herhaal homself; mnr Lotz se seun word ook getref deur die familievloek. Later ook sy dogter.
Volgens Erasmus is die stuk in Afrikaans, “maar as die gehoor uit Engelssprekendes bestaan pas ek net die stuk aan.”
Hy het die stuk reeds 45 keer opgevoer en die gehore kan nie genoeg van Smaarties kry nie. “Ek dink dit werk met die mense se emosies. Die naam van die stuk is ook simbolies; medikasie wat vermom word as Sma(a)rties.”
Erasmus, wat ook dramaklasse by die Hoërskool Eldoraigne aanbied, gaan later vanjaar weer die stuk op die planke bring.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
