Local newsNews

Pretoria se talentvolle kindersterre

Pretoria is deesdae aan die voorpunt as dit by tienersterre kom. Rekord het met twee van hulle gesels oor hulle rolle in Dis ek, Anna en die gepaardgaande roem.

Die jong, blonde meisiekind kry haar heel eerste soen – gebore uit kalwerliefde en nie uit seksuele passie nie. Haar kêrel se lippe is sag op hare, maar die oomblik word verbreek deur haar stiefpa se vuiste wat teen die jong seun se lyf bons. Anna hardloop histeries die kombuis binne. Danie troon bo haar uit. Sy vuiste gelig. Anna val en stap haar kop. Hard.

“Ek moes na daardie toneel eers my Anna-kostuum uittrek en my Izel-klere aantrek. Dit was een van die moeilikste tonele om te speel,” se die 17-jarige aktrise Izel Bezuidenhout hier waar sy langbeen by die Innjoy Boutique Hotel in Eldoraigne sit.

Bezuidenhout is een van die nuwe generasie tienersterre – almal uit Pretoria – wat hul drama-debuut in die skokrolprent Dis ek, Anna gemaak het.

Bezuidenhout lyk soos enige ander tiener; ’n kort sjoe-broekie waarby lang-lang bene uitsteek, grimering net vars genoeg om haar jeugdigheid te beklemtoon en hare wat lank en los om haar skouers val.

Tog is daar wysheid in haar oë – wysheid wat nie by ’n graad 11-leerling tuishoort nie.

Dis ek, Anna het haar verander, sê sy. “Ek het gehoor die vervaardigers is op soek na ’n jong Anna. Ek het die boek gelees en myself voorberei vir die oudisie, maar ek het in daardie stadium nie die erns van die situasie besef nie.”

Soos menige jongmense, uit beskermde gegoede huise, was molestering ook vir Bezuidenhout ’n onbekende, woordeboek-woord. “Ek het nooit besef dat kinders gemolesteer word nie. Toe kry ek die rol van die jong Anna en ’n ander wêreld het vir my oopgegaan.”

Bezuidenhout het teenoor die akteur Morne Visser gespeel. “Ons het mekaar goed leer ken en ek het hom vertrou. ’n Mens kan baie dinge met ’n kamera insinueer en hy het nooit werklik aan my gevat nie.”

In een toneel lê Visser, wat die rol van Anna se stiefpa Danie vertolk, langs haar terwyl hulle na ’n DVD kyk. In ’n stadium beweeg sy hand stadig onder die kombers in. Die kyker neem aan hy is besig om aan haar te vat, maar inderwaarheid, sê Bezuidenhout, het ek nie eers geweet sy hand is onder die kombers nie.

Bezuidenhout het met drama begin toe sy vier jaar oud was. “Ek was baie skaam en drama het my baie gehelp om voor mense te kan praat.”

Sy het haar eerste hoofrol in die tienerkomedie, Agent 2000: Die Laksman, losgeslaan en is ook volgende jaar te sien in die rolprent, Mossie.

“Dit is maar moeilik om my skoolwerk met my rolprentloopbaan te balanseer. Ek moet gewoonlik tydens skoolvakansies my huiswerk doen. Gelukkig is die skool (Hoërskool Eldoraigne) baie ondersteunend.”

Bezuidenhout sê sy is steeds ’n doodgewone tiener al herken mense haar in winkelsentrums. “Ek het ’n paar goeie vriendinne en hulle hou my voete plat op die aarde. Ek dink nie roem sal ooit na my kop toe gaan nie.”

Vir haar vriende is sy sommer net Izel; ’n malkoppie, ’n goeie vriendin, skreeusnaaks en slim…

Maar as sy voor die kamera is word sy iemand anders. Anna of Sonja of Karina….

*** *** ***

Vier dae later ontmoet ons vir Leroux van Diemen (15) by sy ma se prokureursfirma in Menlopark.

Hy speel die rol van Anna se stiefboetie, Danie jnr. Hy lyk soos ’n tienerseun wat alle moederinstinkte in ’n mens wakker maak. ’n Rankerige lyf – nog so tussen seun- en manwees – en heldergroen oë wat met onskuld na jou staar.

Hy is ’n graad 9-leerling aan die Hoërskool Menlopark, maar anders as Bezuidenhout wil hy nie drama gaan studeer nie. Hy wil ’n prokureur word – soos sy ma, die vlymskerp Salomé le Roux. “Toe ek klein was, het ek vir my ma gevra hoekom my naam op haar muur staan (Salomé le Roux pryk groot op die mostertgeel mure). Sy het gesê dis omdat die besigheid eendag myne gaan word.”

Groot voetspore om in te volg…? “Nee wat, ek dink nie die regte verskil te veel van drama nie.”

“Jip,” tjip ma Salomé in, “kyk net hoe goed het Gerrie Nel tydens die Oscar Pistorius-verhoor toneel gespeel.”

Van Diemen het sy akteursdebuut in Suurlemoen – ’n rolprent wat ook op die tienermark gerig is – gemaak.

Hoewel Salomé een van die mede-vervaardigers van Dis ek, Anna is, het sy nie haar invloed gebruik om die toneeldeure vir haar seun oop te skop nie. “Ek moes vir ’n oudisie gaan en het die rol op eie meriete gekry,” sê Leroux.

Net soos Bezuidenhout het hy nie die omvang van kindermolestering besef nie. “Ek het nie geweet dit is so erg nie. Ek dink baie kinders – soos ek – besef nou wat agter toe deure gebeur.”

Hy sê die swembad-toneel was een van die moeilikste tonele waarin hy gespeel het. In die toneel – in die vroeë oggendure – speel Danie snr en Anna in die swembad. Danie jnr spring ook saam met hulle in. “Die water was verskriklik koud. Ons moes die toneel ’n hele paar keer skiet.”

Net soos Bezuidenhout is van Diemen se voete ook plat op die aarde. “My vriende maak nie ’n groot ophef van my akteursloopbaan nie. Ek is sommer net ek.”

Lees ook: 

Toekennings vir Dis ek, Anna

Dis ek, Anna, op silwerdoek

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button