EntertainmentLifestyleLocal newsNews

Sanger bou eie dorpie vir musiekvideo

'n Singende ingenieur van Centurion het die week musiekgeskiedenis gemaak deur die eerste Afrikaanse sanger te word wat sy eie stel vir sy musiekvideo gebou het.

Met siviele presiesheid het hy eers sy dorpie met roomysstokkies gebou – daarna het hy hout en ander materiale gebruik.

Die Centurion-sanger Julius van der Walt (30) het geskiedenis in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf gemaak deur die eerste sanger te word wat ’n stel vir sy musiekvideo gebou het – ’n replika van ’n Meksikaanse-dorpie.

Hy het ook die draaiboek en liedjie geskryf, self van die video-skote opgeneem, in die musiekvideo gespeel, gesing, sy lyf ook regisseur gehou en ook die video geredigeer.

“My vriend het sy plaas in die suide van Johannesburg aan my gegee en binne drie weke het die dorpie uit niks verrys. Daar was ’n kerkie, ’n groentetuin, ’n kroeg en ’n tronk,” het Van der Walt gesê.

Hy het die musiekvideo verlede Maandag geskiet, maar moes tot sy grootste spyt die stel afbreek.

“Die ligging, waar ek die stel gebou het, is nie ideaal nie, maar ek wil die stel volgende jaar in Centurion herbou. Ek oorweeg om ’n kort rolprent in die dorpie te skiet. Ek wil die dorpie daar hou sodat mense dit kan besoek. Net soos Pretville en French Toast.”

“Ek wou iets unieks doen en eers ’n draaiboek vir my liedjie, Gebreekte glas, geskryf. Ek het toe besef dat ek my eie stel sal moet bou, want die liedjie was veronderstel om in Meksiko af te speel,” het hy gesê.

Ongeveer 30 mense het rolletjies in sy musiekvideo gespeel.

Paul Kruger van Pretville-faam het ook rolprentgeskiedenis gemaak toe hy sy eie stelle vir Pretville en French Toast gebou het. Die twee stelle is nou groot toeriste-aantreklikhede in die Hartbeespoortdam-omgewing.

Van der Walt is ’n siviele ingenieur met ’n passie vir musiek. Sy liefde vir musiek is in Irak gekweek waar hy vir jare as veiligheidsbeampte vir die Amerikaanse ambassade gewerk het.

Terwyl hy deur die Universiteit van Suid-Afrika ingenieurswese studeer het, het hy ook ‘n kursus in klankingenieurswese gedoen. “Ek weet nou presies wat in die musiekbedryf aangaan.

Van der Walt het twee jaar gelede na Suid-Afrika teruggkeer waar hy vinnig deur die voormalige Select Musiek, (nou Sony BMG) opgeraap is. Die musiekgroep het kunstenaars soos Kurt Darren en Nicholis Louw in hulle musiekstal.

Van der Walt was toe deel van ‘n due-groepie Silwer & Goud, maar het later besluit om eerder op ’n solo-loopbaan te fokus

“Ek het verlede jaar besluit om eerder my eie CD’s op te neem. Ek beskou my styl as folk-rock en platemaatskappye het ’n geneigdheid om ’n sanger in ’n sekere musiekgenre in te boelie. Ek besit my eie konstruksiemaatskappy en is dus nie finansieel afhanklik van die musiekbedryf nie.”

Volgens Van der Walt wou hy die musiekvideo soos ’n kort rolprent laat lyk. “Dit is ’n uitdaging om ’n storie in 3 minute te vertel, maar ek dink ek kon daarin slaag.”

In van die tonele word hy deur die ‘Meksikaanse-mafia’ aangerand.

“Ek het hulle gevra om my regtig te skop – dit was nie net toneelspel nie. My ribbes was vir dae seer,” het hy gelag. “Die musiekvideo is regtig baie realisties.”

Die musiekvideo gaan teen die einde van die maand op kykNET se Jukebox bekend gestel word.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button