
Corlia Kruger
Twee inbrake binne twee weke het ’n skool in die noorde van Pretoria getref.
“Hulle het tot die melk en suiker gesteel,” vertel Susan Jacobs, hoofsekretaris van die Christelik-volkseie Onderwys Magalies-skool.
Die eerste inbraak was op 2 November toe indringers toegang tot ’n klaskamer verkry het.
“Hulle het by een van die graad 1 klasse ingebreek om ’n radio en staanwaaiers te steel,” sê Jacobs.
“Die alarm op die perseel het afgegaan, maar hulle was weg voordat die reaksie-offisiere opgedaag het.”
Die tweede inbraak was sewe dae later. Hierdie keer het die alarm nie afgegaan nie en die diewe het die kantore feitlik leeggedra.
“Hulle het rekenaars, drukkers, ’n laminator en alles gesteel,” vertel Jacobs.
Tot handdoeke in die kleedkamers en skryfbehoeftes in klaskamers is gebuit.
“Pretoria-Noord se polisie was vinnig op die toneel nadat ons die saak aangemeld het,” sê Jacobs.
“Hulle het ook duidelike vingerafdrukke op die toneel gekry wat kan help dat hulle die diewe vinnig opspoor.”
’n Nabygeleë kerk het ook op 2 November ’n inbraak aangemeld.
“Dit wil voorkom of Eldorette en die Hesteapark-gebied veral die onlangse tyd geteiken deur diewe en rowers,” sê Jacobs.
“Die een dag lees jy ’n man is geskiet en die volgende dag word daar weer ’n inbraak gerapporteer.”
Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die polisie-ondersoek duur voort.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
