Skietslagoffer sou binnekort trou
Verloofde treur nadat man op kleinhoewe vermoor is.
Die verloofde van ’n jong man wat die naweek oos van Pretoria doodgeskiet is, was Maandag in diepe rou.
“Hy was ’n ongelooflike goeie en liefdevolle man,” sê Nadia Treeby.
Sy en Gavin Wolfswinkel (32) sou oor minder as ’n maand trou.
Wolfswinkel is Sondagaand op ’n kleinhoewe in Boschkop vermoor. Hy en een van sy werkers, Lucky Sithome, is albei deur drie gewapende mans doodgeskiet.
Treeby sê: “Hierdie is ongelooflik moeilik. Ons sou binnekort getrou het. Ek mis hom verskriklik.”
Treeby en Wolfswinkel sou op 12 Desember in die huwelik getree het.
Boschkop-polisiewoordvoerder Kaptein Marissa van der Merwe sê die soektog na die drie aanvallers duur voort.
“Die drie het toegang verkry deur ’n draadheining af te knip.”
Van der Merwe sê Sithome en Wolfswinkel het uit die huis gehardloop toe hulle ’n alarm hoor afgaan.
Sithome is in die bors getref en Wolfswinkel in die kop. Albei is op toneel dood.
“Daar is vingerafdrukke op die toneel gekry en die ondersoek duur voort,” sê Van der Merwe.
Treeby sê die reëlings vir Wolfswinkel se begrafnis word nog getref.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
