Boschkop-moord ondersoek
Moord van twee mans word steeds ondersoek; niemand in hegtenis geneem.
Boschkop-polisie ondersoek steeds die moord van twee mans op ’n kleinhoewe op Sondagaand.
Polisiewoordvoerder Kaptein Marissa van der Merwe sê polisie volg verskeie leidrade op.
“Tot dusver is nog niemand in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort,” sê Van der Merwe.
Gavin Wolfswinkel (32) en sy werknemer Lucky Sithome is Sondagaand 19:45 deur drie mans op ’n kleinhoewe in Boschkop vermoor.
Wolfswinkel sou oor minder as ’n maand trou.
Foto’s van die moordtoneel is ook op sosiale media geplaas en honderde kere gedeel.
Nadia Treeby, Wolfswinkel se verloofde, sê die foto’s is later op haar pa se aandrang verwyder.
“Hierdie is ’n verskriklik moeilike tyd. Ek probeer maar sterk staan,” sê Treeby.
Treeby sê sy is besig met Wolfswinkel se begrafnisreëlings.
Sy beskryf Wolfswinkel as ’n “ongelooflike goeie en liefdevolle man”.
Wolfswinkel en Sithome is vermoor toe hulle op ’n alarm op die kleinhoewe reageer het nadat drie gewapende mans ’n draadheining deurgeknip en toegang tot die hoewe verkry het.
Sithome is in die bors getref en Wolfswinkel in die kop. Albei is op die toneel dood.
Lees ook:
Skietslagoffer sou binnekort trou
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
