Bejaarde sewe keer met mes gesteek
Jan Vermaak (64) is verskeie kere met ’n mes gewond naby die N4, Solomon Mahlangu-afrit.
’n Bejaarde man van Daspoort is Donderdagmiddag herhaaldelik met ’n mes gesteek in ’n roofpoging langs die N4-snelweg, oos van Pretoria.
Jan Vermaak (64) het sewe steekwonde opgedoen toe twee mans hom by die Solomon Mahlangu-afrit aanval, vertel sy seun Riaan.
“Hy is steeds in die hospitaal, maar dit gaan nou beter as gister.”
Vermaak het langs die pad stilgehou, waar hy mense sou ontmoet.
“Hy het eintlik as ’n guns vir iemand daar gewag – en toe moes dit nou met hom gebeur.”
Riaan verduidelik dat sy pa skaars die ruit van sy motor se venster afgedraai het toe twee mans op hom toeslaan.
“My pa het probeer terugbaklei, maar hy het ’n ruk gelede ’n spier in sy skouer geskeur en kon nie homself so goed verdedig nie.”
Een van die aanvallers was gewapen met ’n geweer.
“Hulle het hom wreedaardig toegetakel met ’n mes en my pa het verskeie wonde aan sy gesig, kop, hande en ’n diep sny in sy bors opgedoen. Hulle het byna sy hart raakgesteek,” sê Riaan.
Hulp het opgedaag in die vorm van twee mans wat langs die snelweg stilgehou en Vermaak te hulp gesnel het.
Vermaak is na Steve Biko akademiese hospitaal gehaas.
Riaan sê: “My pa is ’n pensioenaris. Hy het niks van waarde gehad nie. Hy verkoop soms koekies vir ‘n ekstra inkomste. My hartlike dank aan die mense wat tot sy redding gekom het.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
