Veilig na 24 uur in eie kattebak
Juan Kruger is weer veilig by die huis na die 24-uur nagmerrie in sy motor se kattebak.
‘n Jong man van Faerie Glen het 24 benoude ure in die kattebak van sy motor deurgebring nadat hy Donderdag gekaap is.
Juan Kruger (29) is Vrydagmiddag betreklik ongedeerd in die stad vrygelaat.
Sy ma Riana het Saterdag vertel van haar nag van angs en kommer na haar seun se verdwyning.
Kruger was op pad na ’n werkonderhoud in Sinoville toe hy omstreeks 11:00 in Sefako Makgatho-rylaan (Zambezi) deur drie mans gekaap is.
Twee van die drie was gewapen.
“Hulle het hom rondgeruk en gestamp, maar darem nie erg beseer nie,” vertel Riana.
Die kapers het hom in sy motor se kattebak geboender en met hom weggery. Niemand op die toneel het blykbaar probeer help nie.
Die kapers het ure aaneen gery. Kruger is in die motor gehou toe hulle die aand stilgehou en langs die motor gestaan en kuier het
Kruger is darem water gegee tydens sy aanhouding.
Die kapers het hom Vrydagmiddag uit die motor gehaal en met vuil en geskeurde klere in Nelson Mandelarylaan agtergelaat.
Na ’n gesukkel om hulp te kry met sy verslonsde voorkoms, kon Kruger uiteindelik met ’n paar rand van ’n barmhartige Samaritaan ’n oproep doen na sy familie.
“Ons het hom eers hier by 15:00 gekry. Hy moes dié aakligheid vir langer as 24 uur verduur,” sê Riana.
“Behalwe vir ‘n paar skrape en kneusplekke is hy oraait.”
Die polisie is op soek na Kruger se goudkleurige Nissan Almera met die registrasienommer PCM 337 GP.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
