Vermoorde jong man se ma praat
Lede van die Eersterust-gemeenskap het ’n petisie opgetrek wat eis dat twee mans nie borg toegestaan word na die moord op Ruben Lawrence.
Corlia Kruger
‘n Vermoorde jong man van Eersterust se ma het hierdie week openhartig gepraat oor haar hartseer.
“Hy was die beste seun waarvoor ’n ma kon vra. Hy het nie verdien om só doodgemaak te word nie,” sê Tersia Lawrence oor haar seun Ruben.
“Hy het nooit teruggepraat nie, was altyd eerbiedig en gehoorsaam. Hy is daardie aand voor sy suster geskiet.”
Die 23-jarige Ruben is die Sondagoggend van 3 Januarie doodgeskiet. Twee mans het hulself die volgende dag aan die polisie in Eersterust oorgegee in verband met die moord.
Die mense van Eersterust het intussen ‘n petisie opgestel waarin hulle eis dat borgtog aan die twee geweier word.
Ruben se 18-jarige suster Wynona het Donderdag vertel wat gebeur het.
“Dit was so rondom 04:00 die Sondagoggend toe dit gebeur het,” vertel sy.
Sy, haar broer, hul neef en ’n vriendin is saam na ’n kuierplek Saterdagaand. Daarna het die beweerde skieter die groep na sy huis genooi.
“Ons het nie lank gebly nie. Die mense het nie eintlik met ons gepraat nie en toe sê Ruben ons moet maar ry,” sê Wynona.
Sy sê hul neef het bestuur en Ruben het voor in die passasier-sitplek gesit.
Die Fiat Palio met die vier insittendes het op die Hans Coverdale pad gery toe ’n rooi Hyundai Atos agter hulle verskyn.
“Ek voel toe ewe skielik hoe ’n kar van agter in ons vasry,” vertel Wynona.
Dit was vir die groep duidelik dat die ander motoris dit opsetlik gedoen het.
“Ruben het uit die kar geklim om te hoor wat gaan aan.”
Wynona sê die man in die Hyundai en ‘n vriend het Ruben daarvan beskuldig dat hy geld gesteel het.
“Hulle het hom daarvan beskuldig dat hy R6000 gesteel het en toe haal die een ’n geweer uit en skiet my broer.”
Nadat hy vier skote afgetrek het, het die man met die geweer gesê dat hy “die verkeerde man geskiet het”, vertel Wynona.
Die man en sy vriend het weggevlug van die toneel en Ruben is na Mamelodi hospitaal gehaas. Hy is kort na die skietery dood verklaar.
Hy is op 9 Januarie begrawe.
’n Moord-dossier is by die Eersterust polisiekantoor geopen.
Die twee verdagtes, vergesel van ’n regsverteenwoordiger, het hulself die volgende dag by die polisiekantoor oorgegee.
Albei is in hegtenis geneem en sal Maandag weer in die hof verskyn.
‘n Gemeenskapsleier in Eersterust sê inwoners is erg omgekrap oor die moord.
“Ruben was werklik ’n goeie seun en het respek vir almal gehad. Hy was nie soos ander jeug met dwelms betrokke gehad nie en was baie geheg aan sy gesin,” vertel sy.
“Hy was ’n onskuldige kind dood gemaak, sonder rede – en ons wil hê geregtigheid moet geskied.”
Lees ook:
Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram.
- We have exciting news! We’re offering a free alert to help you always be in the loop. Send an email with the word ‘Subscribe’ to breakingnews@rekord.co.za to receive your free daily breaking news update.
