Lang pad vir seun ná ongeluk
Daar is 'n lang en moeilike pad wat vir die graad 11-leering van Affies voorlê, nadat hy Vrydag deur 'n bus gestamp is oppad skool toe.
‘n Lang pad na herstel lê voor vir ‘n graad 11-leerling wat Vrydagoggend in Lynnwoodweg raakgery is.
Schalk Viljoen, ’n graad 11-leerling by Afrikaanse Hoër Seunskool, is deur ‘n bus getref terwyl hy op pad was skool toe.
Dirk Taljard, woordvoerder vir die Afrikaanse Hoër Seunskool, sê Viljoen is raakgery op die pad tussen die Afrikaanse Hoër Seunskool en Afrikaanse Hoër Meisieskool.
Hy sê Viljoen is in die lug geslinger en het bo-op ’n ander voertuig te lande gekom.
Netcare 911-woordvoerder Athlenda Mathe sê Viljoen het ernstige beserings opgedoen.
“Hy is op die toneel gestabiliseer en hospitaal toe geneem.”
Taljard sê Viljoen se beserings is ernstig, maar hy toon vordering.
“Schalk se pa het ons laat weet dat hy moontlik binnekort uit sy geïnduseerde koma bygebring kan word,” sê Taljard.
Die drukking op Viljoen se brein het geleidelik verlaag nadat hy in Meulmed se hoësorgeenheid opgeneem is.
Dit het gesak van ’n hoë lesing van 14 na 4.7.
Volgens Affies se Facebook-blad, het die dokters gesê selfs ’n lesing tussen 8 en 12 sou aanvaarbaar wees.
Taljard sê voorbereiding vir die hegting van Viljoen se skedelfrakture gaan voort.
“Wanneer voorbereiding klaar is, sal hy vir sy volgende operasie gaan.”
“Sy beserings was eerlikwaar baie ernstig, en hy het nog ’n pad om te stap.”
Viljoen se ouers is deurentyd by hom in die hospitaal.
Boodskappe van ondersteuning vir Viljoen stroom sedert die ongeluk op sosiale media in.
Yolanda du Plessis het op Facebook geskryf: “Ons Vader se hand v genade en geneesing is uitgestrek. Ons bid dat dit met Schalk net beter en beter sal gaan. Sterkte ook vir die res vd gesin.” (sic)
Rene Stucki het ook haar dank uitgespreek op Facebook: “Dankie dis ongelooflike goeie nuus die Intrakraniale druk wat so af is ons prys die Here Hy is die groot geneesheer en almal net die intstument Soli Deo Gloria. Laat daar Lig wees het HY gese en daar was lig so ook in Schalk se lewe.” (sic)
Dirk Marx het ook op Facebook ’n boodskap geplaas: “Deon & Karin & Schalk. Ons Marx’e bly bid op Schalk se volkome herstel en genesing. Baie sterkte vir julle gesin.” (sic)
Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.
Lees ook:
Affies-leering steeds in koma na bus hom stamp
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ nabreakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
