Sinoville-motordiewe weer bedrywig
Na ’n toename in motordiefstal gee Sinoville-polisie wenke aan motoriste om hul voertuie te beveilig.
Corlia Kruger
Motordiewe is weer bedrywig in die noorde van Pretoria. Sinoville-polisie sê daar is ’n skerp toename in diefstal van motors en goedere uit motorvoertuie.
“Inwoners moet waaksaam wees by winkelsentrums en veral ouers wat hul kinders soggens by kleuterskole aflaai,” sê polisiewoordvoerder Johan van Dyk.
Hy meen daar is’n tendens van diefstal vanuit motorvoertuie, veral by winkelsentrums waar motoriste waardevolle besittings in hul voertuie los.
“Maak seker dat alle waardevolle items buite sig is, verkieslik in die kattebak,” sê hy en gee nog wenke wat grypdiewe kan verhinder om besittings uit voertuie te steel:
– Maak seker dat die voertuig se deure wel gesluit is deur aan die deure te voel – ‘remote jamming’ is ’n werklikheid.
– Wees bedag op vreemdelinge in die onmiddellike omgewing van jou voertuig.
– Vertrou jou instink. As iets nie reg voel nie, beveilig jouself.
Van Dyk sê motorvoertuigdiefstal in die Sinoville-polisiëringsgebied is ’n groot kommer, veral in woongebiede.
Van Dyk gee ook die volgende wenke om diefstal te help voorkom:
– As daar by vriende of familie gekuier word, moet voertuie binne die erf geparkeer en gesluit word.
– Maak seker dat die voertuig gesluit is en alle waardevolle artikels weggebêre en buite sig is.
– Vermy parkering of stilhou op afgeleë plekke.
– Wees bedag op vreemdelinge in die omgewing en meld enige verdagte mense of voertuie by die polisie of Sinoville GPF aan.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ nabreakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
