Huisrowers altyd op die uitkyk
Huisrowers is op die uitkyk vir maklike teikens in die noorde van Pretoria.
Corlia Kruger
Sinoville-polisie het onlangs ’n toename in huisrooftogte opgemerk — veral in Montana, Montanapark en Magalieskruin.
Polisiewoordvoerder adjudant-offisier Johan van Dyk sê oportunistiese boosdoeners hou wonings dop en slaan toe wanneer inwoners dit die minste verwag.
“Tydens onlangse voorvalle het ons opgemerk dat rowers veral huiswerkers en tuiniers teiken.”
Van Dyk sê verdagtes doen hulself voor as werknemers van ’n onderneming wat dienste lewer of herstelwerk doen. Hy sê dit is die huiseienaar se plig om werknemers ingelig te hou oor wie toegang tot die huis het wanneer die eienaar uithuisig is.
“Werknemers kan selfs, om veilig te wees, eers die eienaar telefonies skakel om seker te maak dat hulle nie vreemdelinge in die huis toelaat nie. Eienaars moet ook hul diensverskaffers skakel om seker te maak dat hul wel by die perseel is voor huiswerkers gevra word om die hek oop te maak,” sê Van Dyk.
“Boosdoeners sal op die uitkyk wees vir enige geleentheid om toegang tot jou huis te kry,” waarsku Van Dyk.
Hy sê dit is onveilig vir enigiemand om ’n huis se deure oop te maak vir vreemdelinge. Hy waarsku inwoners om slegs huiswerkers en tuiniers aan te stel wat hulle goed ken en vertrou.
Sorg altyd dat die motorhek toe is as jy in die tuin werk en hou jou motorhuis se deur toe om te voorkom dat booswigte weet wat jy in jou motorhuis het.
“Ons het al gevalle gehad waar rowers deur ’n oop motorhek en oop deur toegang gekry het tot die huis,” sê Van Dyk.
Tuingereedskap wat in ’n erf rondstaan lok ook die oog van oportunistiese misdadigers.
“Moet ook nie leë houers van nuwe elektroniese ware soos TV’s en DVD-masjiene op die sypaadjie of langs die asdrom los vir almal om te sien dat daar nuwe waardevolle items in die huis is nie,” sê Van Dyk.
Hy vra dat inwoners ook verdagte mense in die woonbuurte by hul naaste polisiekantoor of sektor-polisie in die omgewing moet aanmeld.
Van Dyk sê dit is belangrik om paraat te bly en persoonlike veiligheidsmaatreëls toe te pas om te voorkom dat nog inwoners slagoffers van huisroof word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

