Moot-inwoners voel onveilig na mesaanval
Na ’n man van die Moot wreedaardig in sy tuinwoonstel aanveval is, vrees ander inwoners in Riviera vir hul eie veiligheid.
Corlia Kruger
Bloedspatsels teen ’n muur vertel die gru-verhaal van hoe ’n 44-jarige man in die Moot wreedaardig aangeval is en vier keer met ’n mes gesteek is.
Andry Louw, eienaar van Andry Louw Motors, het met Rekord gedeel hoe hy sy vriend Vrydagaand bloeiend op die rusbank van sy tuinwoonstel gevind het na ’n roofpoging in Riviera.
“Sy linkerhand was amper afgesny – mens kon die been sien,” beskryf Louw die beserings van sy vriend en werknemer, André van der Berg.
Louw sê Van der Berg se bors was so erg oopgekloof dat hy ’n deel van sy long kon sien.
Die aanval het omstreeks 21:30 gebeur. Twee indringers het toegang tot die tuinwoonstel gekry wat Van der Berg in Louw se erf huur.
“Hulle het hom oorval waar hy op die rusbank gelê en televisie kyk het,” vertel Louw.
“Een van die aanvallers het hom met die mes aangeval nadat hy om hulp geskree het.”
Van der Berg is na die aanval Eugene Marais-hospitaal toe gehaas en is later na Montana-privaat hospitaal oorgeplaas waar hy vir drie dae in die waakeenheid herstel het.
Louw sê Van der Berg is Woensdagoggend ontslaan.
“Hulle (verdagtes) het dié keer met niks weggekom na hulle André aangeval het nie,” vertel Louw en sê dat hy sedert 14 Desember reeds ses voorvalle van inbrake en roof by die polisie aangemeld het.
“Ek het vorige kere al op hulle geskiet, maar dit skrik hulle nie af nie.”
Louw beweer dit is dieselfde verdagte rowers wat keer op keer terugkeer.
“Die voetspore wat ek in my erf gevind het na elke voorval, kom ooreen,” verduidelik hy.
“Hulle weet presies waar die sekuriteitstrale om die huis is en het tydens ’n vorige voorval ook my sekuriteitskameras gebreek.”
Louw verduidelik hoe die booswigte ’n leer of paal gebruik om teen die muur op te klim en toegang tot in een van die kamers van sy dubbelverdieping-huis te kry.
“Met die sekuriteitstrale om my huis, sal hulle by die kroeg buite inbreek en drank steel. Voor hulle my sekuriteitskameras gebreek het, is een van hulle op kamera gevang waar hy die drank steel – dit net daar en dan drink en die leë bottel in die swembad gooi.”
Louw sê dit kos hom duisende rande om nuwe veiligheidstoestelle te installeer en ook om die skade na elke inbraak te herstel.
Ook Louw se bure sê hulle was al die teiken van boosdoeners in die Riviera-omgewing.
Raubie Raubenheimer vertel van ’n paar gevalle verlede jaar toe indringers toegang tot sy erf gekry het.
“’n Paar keer het hulle in die erf ingekom en dan probeer om goed deur oop vensters te gryp,” vertel hy.
“In een van die gevalle was ons in die slaapkamer toe ’n man sy hand deur die oop venster steek om my vrou se selfoon te gryp. Gelukkig het sy wakker geword en geskree, waarna hy toe gevlug het.”
Louw sê Moot-polisie asook die GPF reageer blitsvinnig wanneer hulle na ’n toneel ontbied word.
“Maar ons voel steeds onveilig met die misdadigers wat op vrye-voet buite ons erwe rondsluip.”
Lees ook:
Man wreedaardig aangerand in mes-aanval
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.


