Queenswood-bejaardes helder oordag aangeval
’n Bejaarde man en sy vrou is Woensdagmiddag in hul woning in Queenswood oorval en beroof.

Corlia Kruger
’n Bejaarde man is Woensdagmiddag ernstig beseer toe hy wreed in sy eie huis in Queenswood aangeval is.
Sy buurvrou Gillian Mey sê die 80-jarige man en sy vrou is helder oordag oorval.
“Hulle is albei nog erg getraumatiseerd,” vertel Mey. Sy wou nie die egpaar se name bekend maak nie.
“Dit was so rondom 14:00 en hulle het nog middagete geniet toe drie jong mans toegang tot hul erf verkry,” sê Mey.
Vermoedelik is die man aangeval toe hy buitekant toe stap.
“Albei is in die huis vasgemaak en my buurman is vreeslik geskop en geslaan.”
Mey sê die aanvallers kon blykbaar nie veel kry om te steel nie.
“Hulle het maar ’n paar rand uit die vrou se handsak gevat en nog ’n paar rand uit die man se bedkassie in hul slaapkamer,” vertel sy.
“Ek kan nie met sekerheid sê wat hulle nog gevat het nie.”
Na die indringers weg is, het Mey se buurvrou haarself losgewikkel hulp gaan soek.
“Haar man is nog in die hospitaal,” sê Mey.
Polisiewoordvoerder Kaptein Koba Brits het die misdaad bevestig en sê die polisie stel ondersoek in.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
