CrimeLocal newsNews

Gemeenskap vat aksie teen grypdiewe

Gemeenskap en polisieëringsforums in die Noord en Moot van Pretoria werk saam om grypdiefstalle stop te sit.

Corlia Kruger

Grypdiewe se wêreld word kleiner in die Moot en in die noorde danksy aksie deur inwoners, die polisie en die GPF.

Wonderboompoort-polisie en die GPF werk steeds saam om grypdiefstal en diefstal van- en uit motorvoertuie te beheer.

“Ons het ’n probleem met diefstal in die omgewing, veral by winkelsentrums,” sê Kaptein Pierre Vigoureux van Wonderboompoort se eenheid teen sosiale misdaad.

“Daar word gereeld gevalle van diefstal uit motorvoertuie aangemeld en grypdiewe wat op mense binne winkelsentrums toeslaan.”

Die probleem met diefstal uit voertuie het veral die laaste paar maande toegeneem. Vigoureux sê dit het noodsaaklik geword vir polisie om meer sigbaar in die openbaar te wees.

Nuwe kennisgewingborde van Wonderboompoort-polisie gaan by byna elke winkelsentrum, vulstasie, skool en ander gevaar-zones aangebring word waar grypdiewe kan toeslaan.

Die kennisgewingborde dien as waarskuwing aan motoriste om altyd op hul hoede te wees. Die nodige noodnommers vir die polisie is ook op die borde.

Van links: Joepie Pretorius, Ben Wannenburg, Jaco  Visser (Tshwane-metro), konstabel Mashala en konstabel  Nalushi van Sinoville-polisie langs die digbebosde veld naby die Apiesrivier. Foto: Verskaf

Die kennisgewingborde word geborg deur GPF-sektore 1 en 2. Pierre Bezuidenhout, voorsitter vir sektor 2, sê dit maak deel uit van hul pro-aktiewe veldtog om misdaad te bekamp.

Ook in die noorde werk polisie en inwoners saam om grypdiefstal en ander misdade te beperk.

Verlede week het die polisie, Tshwane-metro en DA-raadslid, Ben Wannenburg die probleem van ’n oop veld langs die Apiesrivier uitgewys.

“Die gebied in die Poort by die Lavender-Suid-brug asook by die verkeerslig in Paul Krugerstraat is waar die meeste gevalle van grypdiefstal voorkom,” het Wannenburg gesê en na die veld verwys wat sluipslapers en misdadigers as skuilplek gebruik.

“Die grypdiewe se slaapplek onder die brug maak dit maklik vir hulle om vining ’n motor se venster stukkend te slaan en ’n handsak of skootrekenaar te gryp en in die veld langs die Apiesrivier tussen die lang gras en bosse te verdwyn.”

Die polisie reeds beslag gelê op vermeende gesteelde items soos kredietkaarte en beursies, wat naby die rivieroewer versteek was.

’n Span van Tshwane-metro is ook ontbied om die omgewing skoon te maak en sodoende skuilplekke van grypdiewe te ontbloot.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button