Afrikaanse paartjie besteel bejaardes
Inwoners in die noorde word gewaarsku om op die uitkyk te bly vir ’n paar uitgeslape diewe wat veral teiken maak op bejaardes in aftreeoorde.

Corlia Kruger
’n Netjiese en oulike Afrikaanse paartjie gebruik ’n slinkse slenter om bejaardes in die noorde van Pretoria te beroof.
“’n Mens sou nooit kon dink dat hierdie netjiesgeklede, ordentlike Afrikaanssprekende paartjie in staat is om mense te besteel nie,” vertel ’n 74-jarige inwoner in die noorde.
Die bejaarde vrou, wat verkies om anoniem te bly, is een van die inwoners by ’n aftreeoord waar die diewe onlangs toegeslaan het.
Die vrou vertel dit was ’n Sondagmiddag toe twee mense aan haar deur kom klop het.
“Hulle het na ’n oulike, liefdevolle paartjie gelyk, wat hand aan hand saam by die oord ingekom het,” vertel sy.
“Hulle was glo op soek na ’n vrou wat onlangs in Eugene Marais-hospitaal opgeneem is. Hulle het haar op die naam geken en gemaak asof hulle familie is.”
Die bejaarde vrou vertel die “egpaar” het by haar kom aanklop nadat hulle glo ses ander meenthuise in die oord besoek het.
“Hulle het met soveel dringendheid aan my deur gehamer, dat ek nie gehuiwer het om vir hulle oop te maak nie,” sê sy.
“Hulle het met die storie gekom dat die man ’n slegte pastei by ’n vulstasie geëet het en gevra of hy dringend my badkamer kan gebruik.”
Die man het gemaak asof hy in vreeslike pyn is.
“Ek kon nie anders nie as om hulle maar toe te laat sodat hy die toilet kan gebruik.”
Die vroutjie het toe ’n gesprek met die bejaarde vrou aangeknoop.
“Sy het vir my gesê hulle is op pad Nelspruit toe. Hoe hulle die vrou, wat hul kamstig kom besoek het, se naam geken het, weet ek nie,” vertel die slagoffer.
“Hulle moes wel geweet het dat sy nie daar is nie sodat hulle ’n verskoning gehad het om in ons huise te kom rondsnuffel.”
Die bejaarde beweer die vrou het haar besig gehou, wat die man genoeg tyd gegee het om juwele uit die slaapkamer te steel.
“Hy het al my juwele gevat – van dié het ek al vir 50 jaar by my gehad.”
Die slinkse egpaar het ook daarin geslaag om ’n sleutel en afstandbeheertoestel vir die oord se hek reg onder die bejaarde vrou se neus te steel.
“Akasia-polisie was hier nadat ek die diefstal aangemeld het. My sleutel is nog nie gekry nie en ek is bang daardie twee kom terug om weer te steel.”
Die bejaarde vertel sy was verbaas om by ’n familielid te hoor dat dieselfde in Desember verlede jaar by ’n veiligheidsoord in Montana gebeur het.
“Dit was blykbaar dieselfde twee mense wat ’n vrou daar ook besteel het. Presies dieselfe storie oor die slegte pastei en dat hy die badkamer moet gebruik – presies dieselfde as wat met my gebeur het.”
Die bejaarde vertel geen van die ander inwoners by die oord het gesteelde items aangemeld nie.
“Hulle het of gaste by die huis gehad of was dalk te oplettend. Ek dink omdat ek alleen bly, kon hulle makliker my aandag aflei en my besig hou.”
Die bejaarde inwoner beskryf die paartjie as baie netjies.
“Hulle is albei in hul veertigs en lyk glad nie soos arm mense nie. Die vrou het ’n digte bos donker hare en die man lyk asof hy splinternuwe klere aangehad het.”
Die bejaarde sê sy wil ander mense in die omgewing waarsku teen die uitgeslape diewe.
“Mens het altyd hierdie valse gevoel van sekuriteit wanneer ’n mens by ’n sekuriteitsoord bly.
“Ons vertrou te vinnig mense en dink ’n goeie voorkoms is ’n teken dat hulle ook goeie mense is.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
