Motordief by skool geskiet
’n Verdagte motordief is in die hospitaal nadat hy voor Laerskool Danie Malan geskiet is.
’n Man is Woensdagaand gewond toe hy skynbaar by ‘n motor voor ’n skool in die noorde van Pretoria probeer inbreek het.
Polisie het die skietery by Laerskool Danie Malan bevestig, maar kon nie onmiddelik meer inligting verstrek nie.
Martie Engelbrecht van die skool se beheerliggaam sê ouers het ‘n vergadering in die skoolsaal bygewoon toe die man omstreeks 18:45 geskiet is.
Engelbrecht sê daar is gerugte dat daar meer as een voornemende motordief was en dat een van hulle gewapen was met ’n panga.
’n Ingeligte sê ’n veiligheidswag by die skool het die sneller getrek om homself te verdedig.
“Die verdagte motordief het die wag van ’n sekuriteitsmaatskappy aangeval, waarna die man geskiet is.”
Nooddienste is ontbied en die gewonde man is hospitaal toe gebring. Niemand anders is beseer nie.
Die polisie het gerugte ontken dat die man dood is.
“Die man is steeds in die hospitaal,” sê polisiewoordvoerder luitenant Rebecca Phatlane.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
