CrimeLocal newsNews

Samaritane gekaap

’n Egpaar is noord van Pretoria gekaap toe hulle vier mans wou help.

Corlia Kruger

’n Egpaar is Saterdagaand in De Wildt, noord van Pretoria, gekaap toe hulle vier mans wou help.

“Ons was die aand op pad van ’n troue af omstreeks 23:30,” vertel Melissa Grobler.

Die jong egpaar het in hul Landrover by ’n T-aansluiting by ‘n stopstraat stilgehou toe ’n Volvo verby hulle jaag.

“Die motor het ons met ’n haarbreedte gemis en is reguit oor die stopstraat van die pad af die bosse in. ‘n Boom is byna getref voordat die voertuig deur plaasheining is.”

Grobler sê sy en haar man het hul voertuig langs die pad parkeer om hulp aan te bied.

Die vier insittendes van die Volvo het almal ongedeerd daarvan afgekom.

“Hulle was nog ewe ordentlik en het ons baie vriendelik bedank vir ons hulp.”

Grobler sê die vier mans het toe saam met haar en haar man na hul voertuig oorkant die pad gestap.

“Ek was nog besig om op WhatsApp op my foon die buurtwag in kennis te stel van die voorval, toe twee ander mans opdaag,”

Grobler sê die twee vreemdelinge was veiligheidswagte by ‘n 4×4-roete ingang, wat ondersoek kom instel het.

“My man het voorgestel dat hulle dan sommer ’n oproep oor die radio moet doen na die buurtwag en ambulansdienste – toe daar skielik ’n geweerskoot afgaan.”

Grobler sê daar was chaos toe twee van die vier ongelukslagoffers vuurwapens uitpluk en een van die veiligheidswagte in die voet skiet.

“Een van hulle het my aan die nek gegryp en ’n ander het sy geweer op my man gerig,” vertel sy.

“Hy het twee keer die sneller getrek om my man te skiet, maar die wapen het beide kere geweier.”

Die vier booswigte het daarop in die egpaar se voertuig gespring en weggejaag. Wonderbaarlik is die egpaar ongedeerd gelaat.

Grobler sê nog ’n motoris het langs die pad stilgehou. Sy sê dié Samaritaan het hulle probeer help om die verdagte mans in hul gesteelde Landrover agterna te sit.

“Ons het hulle verloor naby ’n woonbuurt in Pretoria-Noord,” sê Grobler.

Die behulpsame bestuurder het hulle toe na die toneel van misdaad teruggebring.

(Insert: Pic of map)

“Toe ons terugkeer, was die buurtwag en polisie daar.”

Grobler sê die vier diewe het vroeër die aand by ’n huis in Pretoria-Noord ingebreek, waar hul gesteelde voertuig ook gewaar is.”

Die polisie het nie onmiddellik hieroor inligting gehad nie.

“Ek is seker hulle ry nou nog met ons Landrover rond en breek by huise in,” sê Grobler verbitterd.

Sy beskryf die Landrover Defender 1996 model as wit of roomkleurig, met silwer wieldoppe. Die voertuig het ’n swart dakrak met ’n hutbedekker (awning). Die registrasienommer is DD80TH GP.

“Dit maak ’n mens bang om te dink ’n mens kan nie eens meer langs die pad stilhou om iemand te help wat in ’n ongeluk was nie,” sê Grobler.

’n Kaping word deur die Mmakau-polisie ondersoek.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button