CrimeLocal newsNews

Waak teen transaksies op die internet

Sinoville-polisie waarsku inwoners om nie sommer enige persoon met hul geld te vertrou nie, veral nie verkopers en kopers op die internet nie.

 

Corlia Kruger

Swendelaars vind gedurig nuwe maniere om te kul en om mense van hul swaarverdiende geld te besteel.

‘n Vinnige en maklike manier vir hulle is om die internet te gebruik.

Sinoville-polisiewoordvoerder adjudant-offisier Johan van Dyk sê daar word weer gereeld gevalle aangemeld van swendelaars wat op die internet handel dryf.

“Dit is maklik om deesdae meubels en items wat jy nie meer nodig het nie, oor die internet te verkoop,” verduidelik Van Dyk.

“Die probleem daarmee is dat mense aanlyn nie altyd eerlik is met aankope of verkope nie.”

Van Dyk sê wanneer mense produkte aanlyn koop of verkoop, moet hulle bevestig dat die koper se geld oorbetaal en in hul bankrekening beskikbaar is voor die produk oorhandig word.

Kopers moet ook eers seker maak dat die produk wat hulle koop wel bestaan en die verkoper betroubaar is.

Van Dyk sê aankope van motors oor die internet is veral ’n kommer.

“Die beste raad is om voertuie slegs by bekende voertuighandelaars te koop.”

Van Dyk sê met privaat-verkope, is daar altyd die risiko dat ’n koper ’n kat in die sak koop.

“Doen jou navorsing en maak seker die eienaar het al die nodige dokumentasie.”

Van Dyk sê in gevalle waar kopers gesteelde voertuie (of ander items) aankoop, hul daarvoor net so skuldig gehou sal word as die verkoper.

“Jy kan aangekla word van die besit van gesteelde goedere, en verloor dan jou produk wanneer polisie dit by jou afneem.”

Van Dyk maan inwoners om nie net enigiemand te vertrou wanneer daar geld by betrokke is nie.

“Vertrou jou instink. As jy ongemaklik voel, moenie voortgaan met die aankope of verkope nie,” sê hy.

“As dit te goed klink om waar te wees, is dit waarskynlik ’n bedrogspul.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button