CrimeLocal newsNews

Man ontslaan met koeël in die long na skietvoorval

’n Man wat verlede week in die nek geskiet is deur ’n ‘Scream-spook’ is Dinsdag uit Montana privaat hospitaal ontslaan – met die koeël in sy long.

’n Rower wat sy gesig agter ’n ‘Scream’-spook-masker weggesteek het, het saam met sy mater glo ewe rustig weggeloop na hy ’n inwoner in die De Wildt-omgewing in die nek geskiet het.

Carel van der Merwe (47) het steeds die koeël in sy long as herinnering aan die skietvoorval in die noorde van Pretoria.

Vrydagoggend omstreeks 02:00 is Van der Merwe onverwags betrap deur twee rowers, vertel sy skoonsuster Elanie van der Merwe.

Van der Merwe het glo op pad terug na sy huis gestap in die vroeë oggendure, en was naby Elanie en sy broer, Ben se woning toe twee figure skielik sy aandag trek.

“Carel was net besig om ’n boodskap vir sy suster op sy selfoon te tik. Hy het pas die boodskap gestuur toe hy opkyk en die mans reg voor hom sien staan.”

Elanie verduidelik die een man het ’n ‘Scream’ masker aangehad, soos in die bekende Scream riller-film.

“Dit was tog so vreemd… gewoonlik dra skurke net balaklavas of sykouse. Ek weet nie of die doel van sy masker was om mense nog meer vreesbevange te laat voel nie.”

Elanie vertel hoe dié ‘Scream-spook’ ’n vuurwapen teen Van der Merwe se voorkop tussen sy oë gedruk het.

Van der Merwe het toe die waaghalsige besluit geneem om die man se hand, gevou om die vuurwapen, weg te klap.

“Hy het die kans gewaag om homself te red. As hy nie die vuurwapen weggeklap het nie, is ek seker hulle sou hom doodgeskiet het,” sê Elanie.

Sy sê die gewapende verdagte het twee keer die sneller getrek. “Die eerste keer het die wapen gestaak, maar toe trek hy die sneller weer en die koeël het net-net Carel se kop gemis. Ons vermoed Carel het sy rug na die verdagte gedraai toe die skoot afgegaan het.”

Van der Merwe het glo nie besef hy is gewond nie.

Die rowers het sy selfoon by hom afgeneem en voor die gemaskerde man sy vuurwapen kon oorlaai om weer te skiet, het Van der Merwe ‘slap chips’ wat hy by hom gehad het in ’n wegneemhouer, amper soos ’n vredesoffer aan die mans gebied.

“Hy het vir hulle gesê: ‘Vat die slap chips – ek sal vir julle gee wat julle wil hê’. Die mans het hom toe vir geld gevra en hy het sy beursie uit sy sak uit gehaal om vir hulle te wys dat hy net R10 by hom het,” sê Elanie.

“Toe neem hulle die beursie en lóóp heel rustig weg. Só arogant en vol selfvertroue – hulle het nie eens gehardloop om weg te kom of om in die bosse skuiling te gaan soek nie.”

Elanie vertel Van der Merwe het vinnig weggestap – dankbaar dat hy nog lewe.

“Sowat 20 meter verder het hy besef dat hy seer het en hy voel toe sy hemp is nat. Hy het agter aan sy rug gevoel en toe hy na sy hande kyk, besef hy dit is bloed.”

Elanie vertel Van der Merwe het na hul huis geloop, vir sy broer om hulp geskree en voor hul deur inmekaar gesak.

Van der Merwe is hospitaal toe gehaas waar daar gevind is dat die koeël, wat hy eers geglo hom gemis het, deur sy nek in sy long in geskiet is.

Die koeël het hom regs van sy rugwerwel getref, sy hart gemis, die een long beskadig en amper eers in sy sy gestop, vertel Elanie.

“Die dokters het gesê hulle gaan nie die koeël verwyder waar dit nou sit nie. Dit sou meer gevaarlik wees om te opereer om dit uit te kry.”

Voor Van der Merwe geskiet is die Vrydagoggend, was daar reeds twee ander voorvalle aangemeld van, vermoedelik dieselfde, twee gewapende verdagtes in die De Wildt omgewing.

’n Paar ure voor die skietvoorval, vertel Elanie, was daar ’n noodoproep op die omgewing se nood-radionetwerk gemaak.

’n Bejaarde egpaarhet die buurtwag in kennis gestel van twee gewapende mans wat by hul huis propeer inbreek het.

Die Els-egpaar, vertel Elanie, bly naby hulle en sê ’n buurman het op die noodoproep gereageer en waarskuwingskote gevuur om die boewe af te skrik.

Elanie sê die verdagtes is daarna na die huis van ’n plaaswerker.

“Hulle het die deur van die huis afgebreek en die huis deursoek,” sê sy. “Gelukkig kon hulle nie iets van waarde daar wegdra nie.”

Elanie vermoed dat die rowers toe, terug op die pad, paaie gekruis het met Van der Merwe.

“Die honde in die omgewing het mal gegaan en vreeslik geblaf, maar Carel het gedink dit is vir hom in die pad wat hulle so blaf.”

Die drie voorvalle was by die Mmakau-polisie aangemeld.

Elanie sê haar swaer is uit Montana privaat hospitaal ontslaan en sê behalwe vir die oorblywende koeël in sy long, gaan dit goed met hom.

IMG-20160308-WA0005

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button