Drie jong boewe het hulle nogal misreken toe hulle ‘n
62-jarige vrou van Lyttelton Dinsdag wou beroof.
Johanna Scholtz het met die skobbejakke handgemeen geraak en minstens een van hulle laat gil van die pyn.
Scholtz sê die drie het voor 10:00 oor die buitemuur van haar erf gespring.
“Ek was besig in die tuin toe ’n man in ’n ouer-model donkerblou BMW voor my erf stilhou en vra vir aanwysings na Welkomstraat. Hy het gesê hy was op soek na iemand met die van Schoeman,” vertel sy.
“Ek het toe onmiddellik snuf in die neus gekry en vir hom gesê dat daar geen so persoon hier woon nie. Ek het die huis binnegegaan en gekyk hoe hy wegry.”
Toe Scholtz weer tuin toe is, het drie mans oor haar muur gespring en aangehardloop gekom.
“Een van die jong outjies was yslik lank en maer en het verskriklike bak ore gehad,” sê sy.
“Hulle het my die huis ingestamp en begin rondstoot. Ek het gemerk dat nie een van hulle enige wapens het nie, en het besluit hierdie is my huis. Dis toe dat ek terugbaklei.”
’n Stoeigeveg het tussen Scholtz en die drie boewe uitgebreek. Tafels is rondgegooi en loodglas waarmee Scholtz werk, het deur die lug getrek.
In die bakleiery is Scholtz se mond aan die binnekant gekneus.
“Dit is toe ek hulle sommer in die gesig spoeg met die bloed,” sê sy.
“Ek het een aan sy privaatdele gegryp en met al my krag gedruk. Hy het verskriklik geskree.”
Hy het haar vinger agtertoe gebuig en beseer.
Hoewel sy met al haar krag baklei het, het hulle haar uiteindelik teen die grond vasgepen.
Een van die diewe het Scholtz se ringe van haar vinger af gebyt.
Die ander twee gryp toe haar televisiestel, haar seun Willem se skootrekenaar, haar iPhone, ’n spesiale bottel brandewyn van R1500 en haar juwele.
Die drie het in die blou BMW gespring en weggejaag.
Sy sê Lytcom buurtwag en Monitor Net was binne minute op die toneel om haar te help.
Willem sê hy is dankbaar vir die Lyttelton-polisie se vinnige optrede en ondersoek.
Scholtz se veglus is nog lank nie geblus nie.
“Alhoewel my vinger opgeswel is en een van my ribbes gekraak het, voel ek steeds dat ek nie verloor het nie. Ek het my houe ingekry en my besittings is verseker,” sê sy.
“Mens kan nie meer net terugsit nie. As die outjies ’n wapen gehad het was dit dalk ’n ander storie.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
