CrimeLocal newsNews

Drie vas na lyk gevind is by skool

Drie verdagtes is vasgetrek nadat ‘n lyk verlede week by ‘n laerskool in Pretoria gevind is.

Die polisie het drie mense in hegtenis geneem na die raaiselagtige ontdekking van ’n lyk by Laerskool Wonderboom-Suid.

Polisiewoordvoerder adjudant-offisier Hero Gumbu sê ‘n werknemer van Kilnerpark-Sekuriteit en twee werkers van die laerskool is verlede week in hegtenis geneem.

Gumbu kon nie besonderhede oor die drie se hofverskyning verstrek nie.

“Ek weet nie of hulle al verskyn het nie,” het hy Dinsdag aan Rekord gesê.

Die polisie het verlede Maandag bevestig dat die lyk in die oggend ontdek is.

Dit is uitgeken as dié van ‘n vermeende indringer wat die vorige aand op die skoolterrein betrap is.

Kilnerpark-woordvoerder Klaas van der Kooi het vroeër gesê sy maatskappy het Sondagnag na ’n noodoproep ondersoek by die skool gaan instel.

’n Man is opgemerk wat tussen die eiendomme in die omgewing rondbeweeg.

“Die man het oor ’n muur van die skoolterrein gespring en werkers van die skool het hom aangekeer,” sê Van der Kooi.

“Ons daarna op die toneel opgedaag en die polisie ontbied.”

Teen die tyd dat die polisie opgedaag het, was Kilnerpark se offisiere reeds weg om op ‘n ander oproep te reageer, sê Van der Kooi.

“Die man se hande was vasgebind en die situasie was onder beheer.”

Van die werkers het intussen aan ‘n dagblad gesê dat lede van ‘n veiligheidsmaatskappy die man die Sondagaand aangerand het.

Van der Kooi het ontken dat werknemers van sy maatskppy enigsins betrokke was.

Hy sê hy vermoed dat die skoolwerkers die man aangehou het nadat sy maatskappy se werknemers weg is.

Van der Kooi het Dinsdag bevestig dat een Kilnerpark se werknemers oor die saak in hegtenis geneem is.

“Hulle het verlede Donderdag in die hof verskyn en is vrygelaat hangende die uitslag van ‘n verdere ondersoek,” sê hy.

“Die drie sal in ‘n later stadium weer in die hof verskyn.”

Die Gauteng departement van onderwys het in ’n verklaring gesê hy is bewus van die saak.

“Berading is vir leerlinge en personeellede aangebied. Ons kan ook bevestig dat die skoolaktiwiteite sonder ontwrigting voortgaan,” sê waarnemende departement van onderwyswoordvoerder Oupa Bodibe.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button