Polisieman dalk betrokke by tref-en-trap
’n Saak van dronk bestuur is aangemeld na ’n tref-en-trap insident in die noorde van Pretoria.
’n Ooggetuie van ’n ongeluk beweer ’n lid van die Pretoria-Noord-polisiestasie was betrokke in ’n tref-en-trap voorval.
Die inwoner, woonagtig in die noorde het onlangs vertel van die voorval wat op 12 Februarie aangemeld was.
Kalie Groenewald sê hy is nooit weer na die ongeluk gekontak om getuienis oor die voorval te lewer nie.
Groenewald het die aand van die gebeure saam met nog ’n ooggetuie in Paul Krugerstraat gery, toe hulle glo ‘n slag soos die van botsende voertuie gehoor het.
“Ons was op pad van Mansfieldweg en Kalie het, na ons die slag gehoor het, by die verlenging van Paul Krugerstraat omgedraai om te sien of iemand hulp nodig het,” vertel die passasier wat saam met Groenewald in die voertuig was.
Groenewald vertel dat hy op die ongelukstoneel gesien het hoe ’n blou Conquest weggejaag het, en besluit het om hom agterna te sit.
“’n Insleepdiensvoertuig het ook agterna gery en ons het die verdagte voertuig by die kruising van Paul Krugerstraat en Mansfieldweg vasgekeer,” vertel Groenewald.
Die passasier saam met Groenewald vertel die insleepdiensvoertuig het agter die verdagte motoris se voertuig gestop om te keer dat hy nie weg ry nie.
“Die Conquest het toe agteruit teen die toutrok vasgery. Kalie het uit die voertuig geklim en die bestuurder se voertuig deur sy motorvenster afgesluit en die sleutels geneem sodat hy nie verder kan ry nie.”
Na ’n konfrontasie tussen die bestuurders, het die man in die verdagte Conquest homself glo geïdentifiseer as ’n lid van die Pretoria-Noord SAPD.
“Sektorlede en die polisie van Wonderboompoort het by die toneel ogedaag,” vertel Groenewald.
“Die man in die Conquest het sy vuurwapen by hom gehad en Kalie het een van die Wonderboompoort-konstabels gevra om die wapen te beveilig, omdat die man baie agresief was en dit voorgekom het dat hy onder die invloed van alkohol is,” vertel die passasier.
Sy sê die saak is by Wonderboompoort-polisiekantoor aangemeld, na hulle eers by die Pretoria-Noord-polisiekantoor was.
Pretoria-Noord-polisiewoordvoerder, luitenant Rebecca Phatlane het bevestig dat ’n saak van dronkbestuur aangemeld is, maar kon nie bevestig of ontken dat die bestuurder ’n lid van die polisie is nie.
Sy sê die saak is deel van Wonderboompoort-polisie se ondersoek.
Rekord kon nie onmiddellik kommentaar van Wonderboompoort-polisie kry nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
