CrimeNews

Codonialaan teiken van motorinbrake

Die polisie het die publiek gevra om nie waardevolle besittings in hul voertuie te los nie.

Die Villieria-polisie het mense gewaarsku om geen waardevolle besittings in hul motors by winkelsentrums te los nie.

Kaptein Coba Brits, woordvoerder van die Villieria-polisiestasie, sê diefstal uit motors ‘n probleem by winkelsentrums raak, veral in Codonialaan, Waverley.

“Mense los waardevolle items soos skootrekenaars en ander elektroniese ware in hul motors wanneer hulle hul motor verlaat. Dit is dan wanneer diewe motors se vensters breek en die besittings steel,” sê sy.

Brits waarsku ook om nie oop en bloot besittings uit motors te haal en dan in die kattebak toe te sluit nie.

Misdadigers is altyd op die uitkyk en kan maklik by ‘n kattebak inbreek as hulle weet daar is kosbare items in.

Die Villieria-polisie het voertuigeienaars gemaan om nie met handsakke of elektroniese ware op passasierssitplekke te ry nie en om seker te maak al die deure is gesluit.

“Maak seker jou motor se deure is gesluit deur daaraan te voel. ‘Jamming’-toestelle word gereeld deur misdadigers gebruik om te keer dat motordeure sluit.”

Frans Smit, wyk 52-raadslid stem saam dat motordiefstal in dié laan ‘n probleem is.

“Ons het al probeer om motorwagte in Codonialaan aan te stel maar daar is ongelukkig geen kontinuïteit nie. Winkeleienaars in die straat sal bymekaar moet kom om ‘n fonds te stig sodat ons permanent motorwagte kan aanstel,” sê Smit.

Hy sê Codonialaan is Waverley se hoofstraat en behoort ‘n veilige plek vir inwoners te wees.

Brits het verder inwoners aanbeveel om seker te maak hul huise is bedags veilig.

“Huisinbraak in die Moot-omgewing is nie noodwendig besig om toe te neem nie, maar meeste inbrake vind in die dag plaas.”

Sy sê omdat inwoners bedags werk vergemaklik dit midadigers om by huise in te breek.

Inwoners moet verseker dat alles gesluit is wanneer hulle hul huise verlaat.

Huishulpe moet ook gemaan word om te verseker dat alle deure en hekke ten alle tye gesluit is.

Die Villieria-polisie waarsku om op te let na verdagte persone in die omgewing van hul woonhuise.

“Indien ‘n verdagte persoon in die omgewing opgemerk word, kontak die naaste polisiestasie vir ‘n patrollie. ‘n Volledige beskrywing van die persone sal die polisie help om op die uitkyk vir hulle te wees.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button