CrimeLocal newsNewsUpdate

Vermoorde Moot man se voormalige vriendin verskyn in hof

Twee verdagtes verskyn vandag in die hof vir die moord op Danie Dreyer wat Maandagaand in 'n mangat gevind is.

Andrea Küsel

Die 36-jarige voormalige vriendin van die vermoorde Danie Dreyer (64) en haar huidige kêrel (41) sal vandag in die Pretoria-landroshof op aanklag van moord verskyn.

Dreyer, ‘n oud-polisieman van die Moot is Maandagaand dood in Flowersstraat, Capital Park, gekry.

Hy is vermoedelik vermoor, sê polisiewoordvoerder kaptein Colette Weilbach.

“Twee mense is in hegtenis geneem nadat die voormalige vriendin haarself aan die Villieria-polisie oorhandig het.”

Die vrou het die polisie na Dreyer se huis in Villieria gelei waar hy glo doodgemaak is ná ’n dispuut oor geld.

Dreyer se voormalige vriendin het toe ‘n adres in Capital Park aan die polisie verskaf waar sy, haar huidige kêrel en twee ander mans die lyk in ‘n mangat versteek het.

“Die polisie het die liggaam gisteraand (Maandag) gevind. Die vrou en haar 41-jarige vriend is in hegtenis geneem in verband met die moord.”

Weilbach sê nog mense sal na verwagting in hegtenis geneem word.

Dreyer se seun het aan Rekord bevestig dat sy pa langer as 20 jaar ’n luitenant-kolonel in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) was. Hy het by die SAPD-hoofkantoor gewerk.

Nadat hy die polisie verlaat het, het Dreyer die onderneming Jakaranda Grafstene by sy pa gekoop.

Dreyer het die onderneming langer as 20 jaar besit en bedryf.

Dreyer was sy hele lewe ’n inwoner in die Moot.

Hy laat drie seuns en ’n dogter agter. Die begrafnis is nog nie gereël nie.

Dreyer se seun kon nie meer besonderhede oor die moord gee nie omdat die polisie se ondersoek nog nie afgehandel is nie.

Die Villieria-polisie versoek enigiemand met meer inligting om 012-403-8600 te skakel.

Lees ook: 

Oud-polisieman dood in die Moot gevind

Man’s body discovered in man hole

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n e-pos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button