Local newsNews

Boek onthul bekende Smit-moordverdagte se lewensverhaal

Roy Allen se omstrede lewe binne Suid-Afrika se veiligheidsbedryf, asook sy verbintenisse met die Smit-moorde en die Olof Palme-saak, staan sentraal in RAU TEM: The Life Story of Roy Allen, ’n nuwe boek wat sy eie weergawe van die geskiedenis bewaar.

Die lewensverhaal van een van Suid-Afrika se mees omstrede voormalige veiligheidsoperateurs is onlangs in Centurion onder die soeklig geplaas met die bekendstelling van RAU TEM: The Life Story of Roy Allen.

Die boekbekendstelling in Centurion het De Wet Potgieter, uitgewer van die boek, en James Kemp, stasiebestuurder van Pretoria FM, in gesprek gebring oor Allen se lewe.

Die gesprek in Centurion het egter nie net oor ’n nuwe boek gegaan nie, maar oor ’n stuk Suid-Afrikaanse geskiedenis wat steeds vrae oproep. Wat het werklik agter die skerms gebeur? Wie was verantwoordelik vir die Smit-moorde? Wat beteken RAU TEM? En hoeveel van die waarheid oor die geheime operasies van daardie era het saam met mense soos Roy Allen verlore gegaan?

Potgieter as Nagkantoor Produksies se uitgewersbestuurder het die boek uitgegee om Roy Allen se verhaal te bewaar soos wat Allen dit self in ’n manuskrip opgeteken het.

“Ek het hom as sagsprekend ervaar, gesteld op sy taal en rigied in sy denke. Die manuskrip is wel voorgelê aan uitgewers maar niemand wou dit uitgee nie omdat Allen nie berou in die mansukrip toon nie,” sê Potgieter.

RAU TEM:The Life Story of Roy Allen is Allen se lewensverhaal, in sy eie woorde.

Potgieter was ook by wyse van talle gesprekke betrokke by die vormgewing van die manuskrip.

Hy het verduidelik dat daar aanvullende materiaal in die boek voorkom. ’n Gedeelte uit sy eie boek Total Onslaught, wat in 2007 verskyn het, is in die boek opgeneem.

Dié materiaal verskaf verdere historiese konteks en sluit aan by Potgieter se vroeëre navorsing oor Suid-Afrika se veiligheidsdienste, en geheime operasies.

Dit is egter Allen se verbintenis met twee historiese moordsake wat sy naam veel verder as sy werk in die veiligheidswêreld bekend gemaak het.

Die eerste is die moord op Robert Smit en sy vrou, Jeanne-Cora, in November 1977. Die egpaar is in hul huis in Selcourt, Springs, vermoor. Die woorde ‘RAU TEM’ is daarna in rooi verf op die kombuismuur en yskas aangetref. Die betekenis van die woorde is nooit finaal bevestig nie.

James Kemp, stasiebestuurder van Pretoria FM en De Wet Potgieter, boekuitgewer. Foto: Elize Parker

Allen is jare later as ’n moontlike verdagte in die saak genoem, maar het sy betrokkenheid ontken.

In sy eie weergawe oor die Smit-moord in die boek verwys hy eerder na voormalige kollegas as moontlike betrokkenes.

Allen het egter self erken dat hierdie siening grootliks op sy kennis van die betrokke persone berus, eerder as direkte bewyse.

Die tweede groot kontroversie rondom Allen is die moord op Olof Palme. Die Sweedse premier is in Februarie 1986 in Stockholm doodgeskiet.

Allen het die bewerings dat hy by Palme se moord betrokke was, ten sterkste ontken.

RAU TEM: The Life Story of Roy Allen gaan egter oor veel meer as dié twee moordsake.

Dit vertel van Allen se loopbaan binne ’n wêreld van geheimhouding, teenintelligensie en spesiale operasies. Dit beskryf ook die mense met wie hy gewerk het.

Allen het later die veiligheidswêreld verlaat en in die private sekuriteitsbedryf gewerk. In 2001 het hy na Australië verhuis, waar hy ongeveer 12 jaar gewoon het voordat hy na Suid-Afrika teruggekeer het. Hy is in 2023 in die Tshwane-hospitaal oorlede.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button