Drie in hof oor moord op oud-polisieman
Drie verdagtes sal Dinsdag hul verskyning in die hof maak nadat ‘n oud-polisieman van die Moot vermoor is.
Drie mense sal Dinsdag in die Pretoriase landdroshof verskyn in verband met die moord op ‘n oud-polisieman van die Moot, Danie Dreyer (64).
Sy gewese vriendin Estelle Reddy (36), haar kêrel Gerhardus Pienaar Papenfus (42) en Kevin Johnson (29) word van die misdaad verdink.
Dreyer se lyk is verlede week in ’n mangat in Flowersstraat, Capital Park, gekry.
Polisie-woordvoerder Kaptein Colette Weilbach het aan Rekord bevestig dat Reddy haarself aan die Villieria-polisie oorhandig het.
Reddy het die polisie na Dreyer se huis in Villieria gelei waar hy glo op 28 Maart doodgemaak is ná ’n dispuut oor geld.
“Sy het toe ’n adres in Capital Park gegee waar sy, haar vriend en twee ander mans die lyk in ’n mangat gelos het,” sê Weilbach.
Die polisie het die lyk verlede Maandagaand gevind. Reddy en Papenfus is in verband met die moord in hegtenis geneem .
’n Derde verdagte, Kevin Johnson van Eersterust, is verlede Woensdagoggend 01:00 in hegtenis geneem.
Hy het Vrydag vlugtig in die hof verskyn.
Die aangeleentheid is uitgestel vir formele borgaansoeke.
Dit is op die stadium onbekend hoe Dreyer vermoor is.
Dreyer se seun het aan Rekord bevestig dat sy pa langer as 20 jaar ’n luitenant-kolonel in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) was. Hy het by die SAPD-hoofkantoor gewerk.
Nadat hy die polisie verlaat het, het hy die onderneming Jakaranda Grafstene by sy pa gekoop.
Dreyer het die onderneming langer as 20 jaar besit en bedryf.
Dreyer was sy hele lewe ’n inwoner in die Moot.
Dreyer se seun sê die familie gaan deur ’n moeilike tyd gaan ná sy pa se dood.
“Dit gaan maar rof. Ons het ’n gedenkdiens gereël vir Woensdag om 10:00. Indien iemand wat my pa geken het die diens wil bywoon, kan hulle die familie kontak vir meer besonderhede.”
Hy laat drie seuns en ’n dogter na.
Die Villieria-polisie versoek enigiemand met meer inligting oor die moord om 012-403-8600 te skakel.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n e-pos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
