CrimeLocal newsNews

Ontmoet die noorde se ‘Supercop’

Stoffel Holtzhausen is Pretoria Noord se ‘Supercop’ op rooi ysterperd.

Op sy rooi ysterperd skrik tot boewe in motors vir die Supercop van Pretoria Noord.

Adjudant-offisier Stoffel Holtzhausen is ewe bekend aan inwoners en booswigte in die noorde.

Beeldmateriaal van hoe Holtzhausen (40) twee voertuigdiewe man-alleen vaskeer, het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei.

Die Supercop vertel hierdie week aan Rekord dat hy dié twee diewe sowat ’n maand gelede in ’n parkeerterrein in Emily Hobhousestraat vasgekeer het.

Die Go-pro kamera wat Holtzhausen dra as hy op sy ysterperd klim, het al die aksie vasgevang.

Hy het gerugte van ’n gesteelde wit Corsa opgevolg toe lede van die sektor-polisieëring hom daarvan in kennis stel dat die voertuig in Pretoria-Noord opgemerk is.

Sien video:

Holtzhausen is op sosiale media geloof vir sy dapperheid en blitsige optrede om die skuldiges op te spoor.

“Die tweede een het nie eers probeer weghardloop nie!” lui een van die boodskappe op Facebook.

Beeldmateriaal toon hoe Holtzhausen die bestuurder van die gesteelde voertuig uit die motor uit beveel.

Die ander insittende het ewe gedwee uit die voertuig geklim en gehoorsaam toe Holtzhausen hom beveel om sy hande agter sy rug te hou waar hy op die grond lê.

Holtzhausen vertel dis nie die eerste keer wat hy op die polisie-motorfiets verdagtes in voertuie aankeer nie.

Verlede jaar het hy op ’n soortgelyke manier drie voertuigdiewe vasgetrek.

“Die gemeenskap het my bygestaan en só kon ek al ’n hele paar verdagtes vang.”

Holtzhausen bedank mense vir hul bystand en hulp, en sê dis as gevolg van hul samewerking dat die polisie sukses kan behaal.

Holtzhausen sê hy is die afgelope 22 jaar in die polisiediens.

“Net nadat ek skool voltooi het, het ek by die polisie-kollege ingestap en nooit weer terug gekyk,” sê hy.

Holtzhausen is in Potgietersrust gebore en het op ’n klein myndorpie grootgeword. Hy het sy hoërskoolloopbaan in Lydenburg begin en in Barberton voltooi.

Na sy opleiding as polisie-offisier het hy by die Carolina-polsiekantoor aangesluit.

“Ek was deel van die misdaadvoorkoming-groep en het toe al die adrenalien daarvan ontdek om op polisie-motorfiets te ry.”

Holtzhausen dien die afgelope 16 jaar by die Pretoria-Noord polisiestasie, en sê hy verkies die ysterperd bo ’n voertuig om agter oortreders aan te blits.

Wanneer Holtzhausen nie booswigte in die noorde vang nie, geniet hy tyd saam met sy vrou en kinders.

Die Supercop van Pretoria-Noord is hier om te bly.

Sien video van hoe dié Supercop onwettige immigrante vastrek na ’n polisie-veldtog in die noorde:

Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:

Rekord East

Rekord North

Rekord Centurion

Rekord Moot

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram.

  • We have exciting news! We’re offering a free alert to help you always be in the loop. Send an email with the word ‘Subscribe’ to breakingnews@rekord.co.za to receive your free daily breaking news update.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button