CrimeLocal newsNewsUpdate

Vermoorde pastoor se skoonseun aangekla

Stephan Visser het Donderdag in die hof verskyn vir die moord op sy skoonma Pastoor Elsabe van Niekerk.

‘n Jong man het Donderdag in die Pretoriase landdroshof verskyn in verband met die moord op pastoor Elsabe van Niekerk van die Moot.

Stephan Visser (28), haar skoonseun, se verskyning was vlugtig en hy bly in aanhouding. Hy sal op 21 April terug in die hof wees vir ‘n borgaansoek.

Van Niekerk se lyk is Maandag in Gezina by ‘n paneelklopper-onderneming aangetref nadat sy klaarblyklik met ‘n mes doodgesteek is.

Visser is dieselfde dag in Rietondale in hegtenis geneem .

Visser, wat in ‘n swart T-hemp en denimbroek geklee was, is glo geskei van die vermoorde pastoor se dogter.

Die Staat voer aan dat Visser se skoonpa die dag voor Van Niekerk se moord met hom ‘n argument betrokke was omdat hy nie sy vaderlike verpligtinge nagekom het nie.

Die volgende dag het Visser en Van Niekerk oor dieselfde onderwerp rusie gemaak.

Dit was glo toe dat hy Van Niekerk doodgemaak het.

Visser het glo met ‘n motorfiets van die toneel  gevlug en is later in hegtenis geneem by die huis van sy huidige vriendin se ouma.

Van Niekerk was ’n pastoor by die Herlewingslig Sentrum in Zandfontein en ’n radio-omroeper by die radiostasie Rainbow Gospel Radio.

Nico en Corne Liebenberg van Rainbow Gospel Radio sê Van Niekerk was geliefd was onder dié radiostasie se luisteraars.

“Ons het byvoorbeeld ‘n luisteraar in België wat elke oggend spesiaal baie vroeg opgestaan het om te luister na Pastoor Elsabe se program: Begin vandag met God, wat elke weeksdag van 6-7 in die oggende uitgesaai is.”
“Ons harte is seer en daar is soveel vrae in ons gemoedere.”

Sy laat twee kinders en twee kleinkinders agter.

Sy het op haar profiel op Rainbow Gospel Radio geskryf dat haar kleinkinders haar hart se punt is.

“Oumie en oupie se hart se punt is ons pragtige twee kleinkinders. Glo my, ons word heeltemal om hul pinkies gedraai.”

Van Niekerk was ook ’n gospel-sangeres en het drie albums agter haar naam. Sy was ook ’n motiveringspreker by seminare en vrouekampe.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button